Huil Google in die hoekie?

Die afgelope week het ek 'n massa opstelle van Afrikaanse eerstejaarstudente gemerk. Die opdrag was om, aan die hand van “Afrikaans in die media” (‘n module wat in wese maar 'n semester se opleiding in retoriek is) 'n plakkaat te ontwerp wat lees onder skoliere bevorder.

Sommiges het die pot heeltemal misgesit en 'n lang relaas kwytgeraak oor hoe Afrikaans besig is om uit te sterf, ander het pynlik paragrawe geskryf oor hoe hulle die plakkaat ontwerp het. (Laasgenoemde groepe het natuurlik nie die opdrag, wat duidelik stipuleer hoe Cicero en kie toegepas moet word in die werk, gelees nie). 'n Algehele misverstand was egter dit: baie opstelle bevat die nosie dat tegnologiese ontwikkelinge die skuld moet kry vir 'n toenemend ongeletterde jeug – dat “lees” gelyk is aan” boeklees”.

Snert, seg ek. Snert met 'n boggel.

Dié standpunte meen kinders moet rekenaars, selfone en televisies los as hulle slimmer wil raak en eerder 'n boek opraap. Daar is beslis meriete in die idee dat daar meer gelees moet word (hoe meer jy lees, hoe meer weet jy immers en hoe groter is jou vermoë om jouself te bemagtig), maar daar skort iets groot met die to-Gehenna-and back sentiment aangaande enigiets meer as gedrukte tekse.

Wat maak 'n boek 'n draer van kennis? Sekerlik tog nie 'n aantreklike buiteblad of die papier waarop dit gedruk is nie. Dis die idees in die boek wat dit nuttig maak. Die woorde (of, soms, die grafika). 'n Boek sonder begrippe is nie veel van 'n boek nie, nes 'n kortspeler sonder klank nie veel van 'n kortspeler is nie. (John Cage uitgesluit, natuurlik.)

Enige medium wat woorde of beelde dra, kan kennis kan berg – en enigiemand wat daardie kennis suksesvol kan onttrek, behoort nie soveel met die medium as met die kennis gepla te wees nie. Of dit nou die internet, Mxit, koerante, uitsendings op televisie, graffiti in toilethokkies, boesmantekeninge of pamflette oor homeopatie is: daar is geen rede om dit minderwaardig te beskou omdat dit nie met gom gebind is nie. Om boeke op te hemel, is om die kommunikasiekanaal groter as die kennis te ag.

Boeke is nie die enigste leesbare voorwerpe in die samelewing nie. Dis tyd dat onderwysers en ouers dit só aan leerders begin kommunikeer: boeke is jou maatjies, maar dis ongeskik om nie pouses saam met Google te speel nie.

This entry was posted in Tegnologie and tagged , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>