In “Ich Will” (ek wil) speel Rammstein die rol van bankrowers wat deur die media opgehemel word. Die video (‘n puik stukkie kinematografie) toon aan hoe hulle 'n bank binnestorm, gewelddadig beset en dan na buite gaan voor Christian “Flake” Lorenz (keyboardspeler) selfmoord pleeg en die bank in sy peetjie blaas met 'n eksotiese bom wat aan sy borskas vasgebind is. Buite word hulle nie net gekonfronteer met 'n massa polisiemanne nie, maar staar hulle ook, nogal kordaat, 'n see van kameras en mikrofone in die gesig.
“This,” meen Richard Kruspe (kitaarspeler) “shows…the attention through the robbery…that you became the “darling” of the media – through manipulation of course – because all the media wants is to show those pictures, this is kinda absurd, decadent, fucked up in the end…that you’ll be rewarded…”
Ek dink dis op 'n siek manier waar van Suid-Afrika ook. Neem die Lotz-sage: was dit regtig nodig vir koerante om daagliks elke miniskule detail daarvan te volg? Was die enigste werklike nuus nie maar die uitspraak van die regter nie? Daar is 101 items in Die Burger se argiewe met die tag “Fred van der Vyver” – 90 hiervan is nuusberigte. Wat op aarde was die punt daarvan? Maak dit nie veel meer sin om bloot drie artikels te publiseer nie? Lotz is vermoor. Fred is aangekla. Fred is onskuldig bewys. Klaar.
Nee. Dis winsgewend om 90 berigte oor Fred van der Vyfer te skryf. Dis ook winsgewend om berigte oor rooftogte en moord en verkragtings te skryf. Maar is dit eties? Is dit die reg om misdaad te gebruik om sirkulasiesyfers deur die dak te laat skiet? (Kom ons wees nou maar eerlik – enigiets meer as 'n paar feitelike artikels is sensasiemasturbasie.)
Kyk gerus 'n bietjie na Rammstein. (As jy nie die musiek kan waardeer nie, loer ten minste na die beeldmateriaal – dis net so goed vervaardig.) Watter parallelle is daar met Suid-Afrika?