Bertus! het my voorgespring. Lees hier wat hy te sê het.
Soms kry ek die gevoel mense verstaan my verkeerd (om enige vorm van emo’geit te verhoed, is laasgenoemde die laaste sin van sy soort vir hierdie inskrywing). As ek skryf LitNet se blogsisteem suig balle, is dit nie omdat ek LitNet haat nie, maar omdat hulle blogsisteem balle suig. As ek skryf Frank Botha skiet spek oor sy trefslae, is dit nie omdat ek 'n probleem met Frank Botha het nie, maar omdat hy spek skiet oor sy trefslae. As ek skryf Choo Thomas en Peter Popoff lieg, beteken dit nie die Christendom is outomaties 'n liegspul nie. Dit beteken Thomas en Popoff lieg. Net so: as ek insinueer dat Angus Buchan of Richard Dawkins verkeerd is oor 'n sekere saak, beteken dit nie ek het 'n vendetta teen enigeen van die twee nie. Dit beteken bloot ek dink hulle was verkeerd.
Neem Buchan. Behalwe dat sy uitspraak ontoetsbaar is (dis tog onredelik om bloot te wag tot sake weer goed gaan in Suid-Afrika en dan skielik te sê – righto, dit was nou God), is dit nie 'n baie verantwoordelike een nie, as 'n mens so kyk na die noodtoestand wat tans aan die broei is. Buitelanders in plakkerskampe word voor die voet vermoor, die ekonomie sal oor die volgende paar jaar 'n hele paar terugslae beleef en daar is 'n kragtekort wat moontlik eers oor meer as 'n dekade opgelos sal word. Die land ervaar probleme wat nie korttermyn oplossings het of kan hê nie. Meer belangrik: die land ervaar probleme wat Buchan se teikengroep heel duidelik nie vinnig gaan oplos nie. Die soort mans, magtig of nie, wat genoeg geld bymekaar kan skraap om tot by Greytown of Nuweland te kom, is in die minderheid. Sestigduisend klink baie, maar dis in werklikheid maar 'n druppel in die Suid-Afrikaanse see van meer as vier en veertig miljoen.
Is Buchan se boodskap heeltemal vrot? Natuurlik nie. Hoewel sy uitsluiting van vroue amper irriterend is, is daar beslis meriete in sy pleidooi vir mans om meer verantwoordelik teenoor die samelewing te begin leef. Maak sy uitspraak oor Suid-Afrika se redding egter heeltemal sin? Nee. Die laerklas – die armstes van die armes – wat duidelik ook sy boodskap ter harte moet neem, sal dit nooit hoor nie. Almal verstaan nie Engels nie. Hoe gaan God die land red met 'n oorgrote meerderheid wat nie weet hulle moet dit red nie? Dis 'n onsinnige uitspraak. Dit beteken egter nie God gaan nooit red nie, of dat God nie bestaan nie, of dat Suid-Afrika nooit gered kan word nie – dit beteken bloot dat Buchan die kat effens aan die stert beet had. Dis al. Buchan. Kat. Stert.
Dieselfde geld vir Dawkins – in die lig van Suid-Afrika (tewens, die wêreld) se huidige toestand, lyk sy verskeie uitsprake prematuur en ondeurdag. 'n Mens kan nie help om te lag vir die bravade van 'n vrydenker wat meen die wêreld se probleme gaan saam met godsdiens verdwyn nie. Die gepeupel wat tans ons townships terroriseer, doen dit nie vir twee en sewentig maagde in 'n hiernamaals nie; geen rower steel en verkrag omdat sy kerk dit vereis nie. Insgelyks het niemand gebid vir Tsjernobil om te ontplof nie, geen sekte het New Orleans onder water gedompel en die tektoniese plate onder China gaan skuif nie – en dis nie asof Vesuvius uitbars elke keer as iets 'n wolkekrabber tref nie.
Beteken dit Dawkins is 'n idioot? Nee. Beteken dit Buchan is 'n idioot? Nee. Dit beteken maar net hulle was verkeerd. En hier raak dit vreemd. Lig 'n mens dit uit, begin mense om die mond skuim, want Dawkins en Buchan verteenwoordig vir hulle onaantasbare bronne van gesag. Heilige koeie. In plaas daarvan dat mense kompartementaliseer en fokus daarop om die verkeerde uitsprake te kelder, is daar eerder 'n algehele sentiment dat, as Buchan gekritiseer word, die hele Christendom sommer skielik onder die spervuur gekom het. Word Dawkins se foute uitgewys, is die kritiek op soortgelyke wyse kwansuis 'n onredelike en irrasionele aanval op Rede. Hoe, wil beide partye weet, durf jy hulle koeie slag?
Hoekom is dit altyd alles of niks? Niemand het van slag gepraat nie. Ons het 'n verantwoordelikheid teenoor die samelewing om alle heilige koeie onder 'n vergrootglas te plaas. Die hele koei hoef nie noodwendig van kant gemaak te word nie, maar as daar 'n verstopte blindederm is (verskoon tog die beeldspraak, ek kan nie aan 'n beter metafoor dink nie), moet dit verwyder word. Anders vrek die koei. Buchan en Dawkins se uitsprake is (myns insiens) daai verstopte blindederms. Om dit weg te sny, beteken nie skielik hulle is drelle en alle ateïste en / of Christene is droesem nie. Dit versterk (of temper) bloot beide se boodskappe en maak die mensdom hopelik 'n klein bietjie beter.
Dit gaan nie oor slag nie.