George Claassen het onlangs die volgende kwytgeraak in ‘n onderhoud met Kletskerk.
Ek is met die dood gedreig omdat ek dit durf waag het om die 60 000 Magtige Manne-mars te kritiseer. Omdat ek krities Angus Buchan bevraagteken dat al die sogenaamde wonderwerke met hom gebeur het. Waar is die bewyse? Ons moet hom net glo en as ons dit bevraagteken, word ons verdoem. Fundamentalisme het Deon Maas se mond gesnoer. Dit is in ons midde en dit is skrikaanjaend en onverdraagsaam.
Waar is Christus se liefde in al hierdie gevalle? Hoe meer ek met Christene te doen kry, hoe minder twyfel ek dat Christus net 'n mitiese god is. Want ek kan nie sy filosofie van die Bergpredikasie in Christene se lewens opmerk nie. Dis totaal afwesig.
Claassen, in sy eiesoortige styl, het 'n punt beet. (Dis omhang met onnodige retoriek, maar dis daar.) In fundamentalisme skuil 'n groot gevaar. Die gevaar is nie altyd ooglopend nie – soms is dit nie eers sigbaar nie. Tog is dit daar, reg om te ontplof indien dit onder te veel druk geplaas word. Dit is die gevaar van onverdraagsaamheid.
Ja, dink jy dalk terwyl jy dit lees – ek glo die Bybel woord vir woord en ék blaas nie geboue op nie, so Claassen praat snert. Jy mis dan moontlik die punt. Die blote feit dat jy dalk probeer aanvoer dat 'n standpunt snert is – nie omdat jy rasioneel en krities by daardie konklusie uitgekom het nie, maar omdat dit bloot nie strook met jou eie oortuigings nie – bewys hoe irrasioneel fundamentalisme kan raak.
Want sê nou maar jy was verkeerd?
Fundamentalisme maak omtrent soveel sin soos sigarette – dis 'n kanker in die samelewing, maar mense koester dit, omdat dit hulle goeie reg is om so te doen. Een van hierdie kankers in ons samelewing is ongetwyfeld rassisme – en dis niks minder as fundamentalisme nie. Dis die oortuiging dat iemand minder menslik as jy is, omdat hulle anders lyk en optree en jy dit nie verstaan nie. Dis die arrogante aanname dat jy beter is, beter weet en beter doen. En dis duidelik nog springlewendig onder sommige Afrikaanssprekendes. Raar maar waar. Dis byvoorbeeld hartseer om die volgende reaksies raak te lees:
DAAR IS NIE PLEK VIR DIE WOORD K@FFER NIE DIS EINTLIK F@KKEN K@FFER
Of:
'n Platneus bly 'n platneus en sal altyd 'n platneus bly, maak nie saak of jy hom probeer opvoed, higiene leer,logika leer,mensliewendheid leer, ek kan nog baie aangaan,sy laaste koelteboom in die woestyn sal hy afkap om vir vannaand se vuur te sorg.
Of:
My booi steel liewer by jou houtkop boeties. as jy by hierdie baas se huis aankom vir jou “affirmative shopping” k@k jy en al jou trawante. “Foek off and die” jou sleg bliksem.
Wat sien jy? Ek sien 'n fundamentalis. Ek sien 'n bang witman wat agter sy rekenaarskerm wegkruip en hunker na die dae toe hy nog sy wêreld kon verstaan. Ek sien 'n lafaard wat sal kla oor hoe Suid-Afrika skielik vir hom en sy “stam” sleg is, maar nie sy moue sal oprol om dit beter te probeer maak nie. Ek sien iemand wat Ander nie wil verstaan nie – wat kla oor hoe onopgevoed hulle is, maar self nie eers kan spel nie. Iemand wat na alle waarskynlikheid ook so iets sal kwytraak:
nou ja . as ons die SLEGTE van die VERLEDE moet onthou en dit heeldag teen ons kop gegooi word .. sal ons ook maar die GOEIE moet onthou . .. die feit dat jy nog 'n kind met 'n fiets kafee toe kon stuur, of die feit dat jy nie’ n heining om jou erf nodig gehad het nie, nog minder elektriese heinings en 'n alarm en gewapende reaksie eenheid ..
Is jy dan blind, stomme Afrikaner? Is dit so moeilik om jou brein te dwing om verder as neo-rassistiese propoganda te dink? Om te besef dat jou lewe maar veilig gelyk het omdat jy en jou regering op die handearbeid van bannelinge geteer het? Is dit so moeilik om te besef dat die land nié veilig was nie – dat jou woonarea beswaarlik 'n druppel in die emmer was? Sou jy daardie einste kind destyds tydens die onluste na 'n townshipkafee gestuur het?
Die hartseer werklikheid, om by die punt van hierdie inskrywing te kom, is dat sommige van hierdie mense hulleself na alle waarskynlikheid Christene noem. Dan het Claassen gelyk – ek kan ook nie “[Jesus se] filosofie van die Bergpredikasie [in hulle] lewens opmerk nie. Dis totaal en al afwesig.” Weg. Nada. Nihilo. Geen barmhartigheid nie, geen medemenslikheid nie, geen begrip vir die Ander nie, geen sagmoediges nie. Net 'n luidkeelse wars van arrogante onverdraagsaamheid.
So asof Jesus net kyk wanneer hulle wil hê Hy moet.
Kan ons, te midde van 'n toenemend omgekrapte proletariaat en 'n onstabiele regering, dit bekostig om sulke opmerkings ongesiens verby te laat gaan? Moet ons ons sterre dank dat daar taalgrense in Suid-Afrika is wat, ironies, tot dusver gesorg het dat die onverdraagsames nie heeltemal vir mekaar hoorbaar was nie? Moet ons hierdie soort intellektuele snert so verdraagsaam moontlik uitroei voor dit regtig te laat is?
Attie het op Claassen se onderhoud gereageer en aangevoer dis haatspraak. Claassen het op sy beurt op Attie gereageer.