Hoekom jou Jurie Els CD perfek is

Musiekinstrumente is soos die menslike liggaam. Soms wil ons hulle transendeer.

Dink daaroor. Jy haal asem, maar kan jou longe nie hoor nie. Die haartjies in jou ore en die vel op die agterkant van jou nek is vir jou heeltemal onsigbaar. Jy kan nie op jouself spring of vir jouself weghardloop nie en daar is nie ‘n manier hoe jy jouself kan optel en weggooi nie. Jou liggaam is anders as al die ander fisiese voorwerpe waarmee jy van dag tot dag gekonfronteer word: ‘n geheelindruk daarvan ontglip jou deurgaans.

Fenomenoloog Maurice Merleau-Ponty lê veral klem op hierdie liggaamlikheid. Die menslike liggaam, voer hy aan, is nie verwyderd van of verhewe bo die werklikheid nie, maar intrinsiek deel daarvan. Menslike eksistensie word egter gekenmerk deur ‘n dubbelsinnigheid – die spilpunt van ons eksistensie is ‘n liggaam wat ons beide is en nie is nie. Ons is deel van die wêreld, maar neem dit terselftertyd waar as iets buite ons. Daarom wil ons soms onsself transendeer – wens ons ons kan buite onsself vlieg, van berge afspring of deur mure loop, terugdraai en vir onsself waai.

Iets van hierdie dubbelsinnige gebondenheid is waar van musiekinstrumente. Hoe strelend ook al die musiek, ‘n orrel sal altyd die gesis van lugpompe hê, ‘n fluit se kleppe sal stil-stil hulle gate kap, ‘n plektrum op ‘n kitaarsnaar sal ‘n noot plus ‘n atonale aanvalsklank maak. Trompette vol spoeg sal gaandeweg begin sputter, ‘n oop E klink selfs op ‘n Stradivarius grof, stembande raak moeg en kry poliepe van te veel skree. Daar is nooit net musiek nie. Iewers (al filter jou brein dit weg terwyl jy luister) broei daar heimlik die herinnering dat jy besig is om ‘n meganiese toestel aan te hoor.

Ons het instrumente nodig om die note te kry wat ons wil hê, maar word terselftertyd ingeperk deur hierdie einste instrumente. Voeg hierby die feit dat ons hulle met ons eie ledemate manipuleer en jy het ‘n klinkklare resep vir “onperfekte” musiek (en onmiddelike respek vir musikante wat hierdie instrumente bemeester en bespeel asof die fisiese beperkinge nie bestaan nie). Kom wat wil, nie eers The Great Kat kan 64ste-note teen 600 bpm speel nie.

Miskien is dit hoekom sintetiese musiek soms so onmenslik klink. Dis te perfek. Ek wil die raaiskoot waag dat Jurie Els en kie (en hier verwys ek spesifiek na Afrikaanse Supersterre met stampende topverkopers van toeka tot nou wat die beste kompilasies ooit van ander kunstenaars se musiek in die heelal ooit op die mark sit – ooit) so fel onder kritiek deurloop juis omdat hulle musiek sinteties klink. Die musiek is verbeeldingloos en wiskundig perfek – die oormaat van digitale sampling laat ‘n mens amper dink dis moontlik om die fisiese beperkinge van musiekinstrumente (en jou spysverteringskanaal) te oorskry.

Raar maar waar – jou Jurie Els CD is honderd bewonderd volmaak. Stephen Hawking se CD sal natuurlik beter klink, maar tot tyd en wyl hy een vrystel, kan jy ten minste op jou Jurie CD spring, daarvoor weghardloop of dit optel en weggooi. Ten bate van die fenomenologie, natuurlik.

Post to Twitter

6 Responses to “Hoekom jou Jurie Els CD perfek is”

  1. cool manier om daaraan te dink ;) toe ons drums record het in die studio, was die metronoom in soundcheck uit met (ek dink) 5 of 7 millisekondes, en dis vreesaanjaend hoe gou dit my oor gevang het (en my soepper baie irriteer het..) ‘n mense se oor is SO vrek sensitief vir self ‘n 5 millisekonde interval, vir die broodnodige human error.

    en net vir interessantheid, 64ths teen 600 bpm is ‘n frekwensie van 160Hz :)

    Reply

  2. Nice stuk. Baie waar, en dit is sad dat die soeke na perfeksie, veral in musiek, ons gelos het met ‘n klomp perfekte musiek. En jy is reg….dit klink net nie dieselle nie! Die oorskreiding van die fisiese beperkinge van die instrumente, soos jy dit stel, het ons gelos met ‘n klomp onrealistiese perfeksie….en dit is eerder irriterend as mooi!

    Reply

  3. kleine correctie: een trompet zit niet vol met ‘spoeg’
    dat is condens :o )
    (klinkt toch een stuk minder onsmakelijk)

    Reply

  4. regtig? ek speel self trompet en my onderwysers het my altyd geleer ek blaas spoeg in die ding. kan jy nou meer…

    (daar moet tog ‘n bietjie spoeg in wees? die manier hoe ‘n mens se lippe vibreer bring noodgedwonge spoeg in die buis.)

    Reply

  5. oke, er zal wel een klein beetje spoeg in zitten :o )
    maar: ik speel ook trompet, en mijn onderwijzer heeft me geleerd dat het condens is wat je er aan de andere kant weer uit laat lopen
    daar kan ik me ook wel iets bij voorstellen: warme adem in een koude trompet…

    Reply

  6. [...] my vat, en daarom verdien sy haar blog-toekenning van laas jaar. Nog ‘n gunstelingskrywer is Johan, en ek kan spesifiek hierdie stuk oor Jurie se perfekte CD’s onthou. Ek moes dikwels sy [...]

Leave a Reply

CommentLuv Enabled