Hartlik welkom by GormenDIzer.co.za!
Dit was 'n interessante en uiters leersame proses om na my eie webspasie te migreer. Met behulp van baie ure saam met Google, ‘n goeie vriend, Justin Tadlock en Hetzner se knap kliëntediens kon ek die webblad produseer waarna jy tans kyk. Dinge mag dalk weer effens verander, maar vir eers hou ek van hom nes hy is. Daar moet immers nou eers weer aandag gegee word aan ander dinge (‘n tesis jumps to mind).
‘n Vinnige toer:
Die hoofnavigasiestaaf (ugh, daar is 'n rede hoekom rekenaarterme in Engels gemunt word) bevat skakels na ekstra bladsye, 'n RSS-voer en e-pos subskripsie.
Die mashoof bevat die huidige logo. Vir die nuuskieriges onder ons is daar ook 'n soekstaaf.
Die subnavigasiestaaf (argh!) bevat skakels na al GormenDIzer.co.za se kategorieë. Hulle is nog nie gefinaliseer nie – ek sal dit hopelik teen die einde van die maand klaarhê. Die idee is om ses of sewe hoofkategorieë (elkeen met die nodige subkategorieë) te hê, met tags wat posts verder definieër. Ek gaan elkeen van die afgelope twee jaar se meer as 400 inskrywings van voor af moet lees, kategoriseer en tag. Wanneer dit afgehandel is, behoort die subnavigasiestaaf taamlik nuttig te wees.
‘n Nuttige nuutjie is die ShareThis knoppie aan die einde van elke inskrywing. Indien ek bevoorreg genoeg is dat iemand my woorde met die res van die wêreld wil deel, kan hulle dit nou via hierdie funksie doen. Elke inskrywing het ook 'n timestamp, outeur-, kategorie-, tags- en kommentaarskakel.
Die kantstaaf (nraaargh!) bevat tans afdelings vir onlangse kommentaar, onlangse inskrywings, gewildste inskrywings en tag-wolkies. Laasgenoemde drie is toegangklik via tabs (dit het na die slim opsie gelyk). Ook is daar 'n opgedateerde blogroll – dis meestal dieselfde as die ou blog s’n, met onaktiewe blogs hier en daar uitgesny en nuwes bygevoeg.
In die voetstaaf (haai, dit klink eintlik mooi) is badges vir Amatomu, Afrigator en andere, sowel as generiese skakels na WordPress en Tadlock.
Hierdie bladsy word gegenereer met WordPress 2.6 en Tadlock se baie buigbare Options tema. Die mashoof is na seker so 30 verskillende prototipes – meer uit radeloosheid as enigiets anders – in Paint Shop Pro ontwerp (want Photoshop is die antichris). Icons is skaamteloos van die internet af gesteel of geleen. Loer gerus 'n bietjie rond, krap in die argiewe, los kommentaar – gebruik die blog sodat ons kan sien of hy inmekaarval of nie.
Nou die groot vraag: wat dink julle hiervan?