Welkom! (3 van 3)

Een van die motiverings vir my uitgewekenheid by WordPress.com is my nuuskierigheid oor die advertensiepotensiaal van blogs.

Kom ons wees eerlik. Almal wil geld maak. Kom ons wees nog eerliker – 'n paar clicks en 'n rekening by Google Adsense gaan niemand oornag in 'n miljoenêr verander nie. Die harde waarheid is dat weinig Afrikaanse blogs genoeg trefslae kry om maandeliks ten minste 'n paar honderd rand van Google (of wie ook al) af te rokkel. Steve Hofmeyr (salig rus sy kubersiel) kon dit dalk regkry, maar hy het gekies om (buitensporige) advertensietariewe vir vaste reklamespasie op sy blog te vra.

Myns insiens is so 'n besluit nie altyd wenslik nie. Om dieselfde vervelige advertensies oor en oor te sien, kan so sieldodend raak dat lesers dit later heeltemal miskyk. Insgelyks is dit 'n baie primitiewe manier van adverteer – dit het na alle waarskynlikheid niks te doen met die betrokke webtuiste se inhoud nie en sal lesers dalk nie eers interesseer om mee te begin nie. (Wie wil byvoorbeeld op die advertensie vir 'n kerk se webtuiste kliek as jy op soek is na leidrade oor wie jou gunsteling popster volgende gaan slegsê?)

Hoewel nog nie heeltemal gekonfyt met Afrikaans nie, is Adsense ligjare beter as laasgenoemde. Dis gebou op 'n eenvoudige, dog kragtige, konsep: Google “lees” self jou webblad, besluit outomaties waaroor dit gaan en bedien jou met relevante advertensies uit 'n massale databasis. 'n Paar weke terug het Google selfs derdeparty advertensienetwerke (Doubleclick, Eyeblaster en daai klas ouens) toegevoeg tot sy Adsense arsenaal. Die konsep van relevansie maak Adsense-advertensies veel beter as 'n paar statiese beelde wat later onvolhoubaar raak – vir beide die adverteerder en die eienaar van 'n webtuiste.

Suid-Afrikaanse ekwivalente vir Adsense is TrafficSynergy en Offerforge. Hoewel nie so gevorderd soos Adsense nie, is hulle besig om vinnig 'n voet in die mark te vind en bied hulle redelike hoë kwaliteit advertensies. Al bied nie een Adsense se funksies nie, het elkeen kode vir 'n soort advertensieroteerder, wat ten minste verseker dat advertensiespasie vars bly. 'n Voordeel (of nadeel – afhangende van hoeveel lesers in die buiteland sit) wat hulle wel bied, is dat hulle plaaslike produkte adverteer.

Dit sal my nooit skatryk maak nie, maar die moontlikhede rondom aanlynadvertensies intrigeer (ja, dis 'n legitieme Afrikaanse woord) my. Ek sien uit daarna om daarmee te eksperimenteer. Soos ek egter destyds genoem het: ek weier om my blog te omskep in 'n goedkoop flikkerpaleis vol onooglike advertensies. Die uitdaging is dus om advertensies slim en ekonomies te plaas, sodat dit nie afbreuk maak aan die algehele leeservaring nie. Niemand laaik immers 'n flitsende banier langs 'n diep gedagte nie.

This entry was posted in Blogging and tagged , , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>