Laat die skinny jeans waai

Sedert Fokofpolisiekar se debuut in 2003 (As jy met vuur speel, sal jy brand, Rhythm Records) het daar ‘n revolusie op die Afrikaanse rocktoneel plaasgevind. Nuwe bands pop die afgelope paar jaar soos paddastoele op en is ‘n stem vir die ontnugterde wit, Afrikaanse jeug wat nie lekker weet waar hulle na Apartheid inpas nie.

Ofskoon so lui die algemeen aanvaarde mitologie van Afrikaanse rock. Wynand Myburgh self het voor die bekendstelling van Fokofpolisiekar se eerste album die volgende tydens ‘n onderhoud kwytgeraak:

[Dit] gaan oor baie meer — oor die vrees waarmee ’n jong generasie rondloop, en die bevryding van instellings en strukture wat van kindsbeen op mens afgedwing word.

Uit met die Voortrekkers, in met die skinny jeans.

Sedert 2003 het Fokofpolisiekar die tematiek van As jy met vuur speel, sal jy brand meesterlik ontwikkel op verskeie albums, tot ‘n uiteindelike hoogtepunt in die knap vervaardigde Swanesang in 2006. Sentraal tot hierdie tematiek is ‘n spreker wat, nadat hy die bakens van gesag uit sy jeug stelselmatig verwoes het, naarstig op soek is na iets om die selfgemaakte gate in homself mee te vul. Einde ten laaste vind hy dit nie en word luisteraars gekonfronteer met die ontboeseming van ‘n “skynheilige” wat met ‘n kloppende kop wil weet wanneer “die revolusie verby is” (Ek skyn heilig, Swanesang) en sy “kardeurknoppie [afdruk]” by verkeersligte (Vasbeslote Korporasie Deel 2).

Vir baie jong Afrikaners het hulle musiek ‘n glimmer solidariteit in ‘n verwarrende morele landskap verteenwoordig. Binne die bestek van vyf albums het Fokofpolisiekar brandende kwessies aangespreek en verdien hulle sonder meer ‘n plek in die Afrikaanse rockkanon. Elke album bied iets nuut – van die rou agressie van die eerste album tot die ontnugterde introspeksie in Swanesang. Of jy van hulle hou het of nie – hulle musiek was ten minste onopgesmuk.

‘n Mens sou dink dat hierdie golf van vernuwing – die rennaissance van die skinny jeans – sou oorspoel in die verskeie nuutskeppinge en klone wat gevolg het. Dat hulle sou voortbou op die kwessies wat Kennedy en kie in hulle lirieke aanraak of dit ten minste kritiseer.

Dit het nie gebeur nie.

Die kitaar het die fan gestrike. Fokofpolisiekar se bevraagtekening van ou norme het aanleiding tot ‘n nuwe status quo gegeeeen waarin heeltemal te veel Afrikaanse rockgroepe vasgehaak het. Die meeste (selfs ‘n groot kanon soos Foto Na Dans) sing op die een of ander manier oor die passé tema van ‘n middelklas lewe waarin iemand kwaad is vir die kerk, hulle ouers of een of ander gesagsfiguur.

Dit raak afgesaag. ‘n Mens kan net soveel keer aanhoor hoe saai die lewe in suburbia is. Daarna raak dit irriterend – veral as ‘n mens besef hoe bevoorreg jy eintlik as Suid-Afrikaner is om in daai huis met die lopende water en die internetverbinding te woon. Dis een ding om te kla oor die probleme van jou voorvaders, dis ‘n ander om te draal met ‘n oplossing.

Foto Na Dans stel binnekort hulle volgende album vry (die kortspeler is klaar beskikbaar). Straatligkinders ook. Inslomotion se debuut is sterk op pad. Van Coke Kartel is tans besig om hulle volgende album op te neem. Ek hoop van harte dat al hierdie nuwe materiaal (sowel as dié van ander groepe) begin neig na nuwe tematiek. Wil Afrikaanse rockers nie maar vir ‘n slag begin peins oor VIGS nie? Dalk oor korrupsie? Of die Afrikanerdiaspora? Kospryse? Xenofobie? Fetale alkoholsindroom?

Almal weet nou hoe dit is om kwaad te raak vir jou ouers en hulle kerk. Dis tyd om die skinny jeans ‘n trekpas te gee en na die land as ‘n geheel te begin kyk. As dit nie gebeur nie, is ek bevrees, gaan die rennaissance binnekort begin vrek.

Post to Twitter

18 Responses to “Laat die skinny jeans waai”

  1. Ek is bevrees die skrif is aan die muur.

    Nie net ontbreek die woorde en wysie nie maar is veral gebrekkig aan wysheid.

    Dis maklik om af te breek, maar om te (her)bou is soos die verskil tussen die slaan van die kitaar en speel van die harp.

    Sal die ware musiekleiers, die ware snaarspelers, die Dawids, die Asafs, die psalmdigters weer opstaan…

    Musiek wat nie net die denke dood donner nie.
    Musiek wat nie alleen donner totdat die denke doodeenvoudig vrek nie.

    Musiek wat die lewe uit dood sal donder….

    musiek wat lewend en saak maak en vir langer as 40dae onthou sal word

    al klink dit soos iets uit die oude doos…

    (Psa 42:1) Vir die musiekleier. ‘n Onderwysing van die kinders van Korag. Soos ‘n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God!

    Reply

  2. Goeie, deurdagte inskrywing, JS! Ek deel jou denke rondom hierdie kwessie.

    Reply

  3. Inslomotion. Dit sal iets anders wees.
    As ons net Cobus kan kry om ons n datum te gee wat ons dit in die hande kan kry…

    Reply

  4. johannes_11 – jy bly my verbaas

    BiB – baie dankie!

    rissie – ek kan self nie wag om te hoor wat hulle voortbring nie. sal baie interessant wees :-)

    Reply

  5. Naand naand.
    So dwars langs die rooi streep afgeskryf; is temas soos VIGS, korrupsie, die Afrikanerdiaspora, Kospryse ens. (en las 2010 dalk daarby) I.E die revolusielied / anti-establishmentlied/ proteslied -tema nie dalk in sy geheel die spreekwoordelike skinny jeans waarvan jy hier praat nie? Ek wonder soms of ons nie lankal onbewustelik VERBY die punt beweeg het waar sosiale kommentaar, gegrond op ‘n histories-revolisionere protestema, noodwendig in musiek moet figureer nie. Indien wel, is die produk van hierdie (geimpliseerde) dooieperd-skoppery geforseerde en pretensuese rymelary, dalk?
    Koos Kombuis hier ter voorbeeld (en daarmee skeer ek hom nie met dieselfde skeermes as harcore rockers soos Fokof nie):
    Sy nuutste album, “Bloedrivier” is vir my ‘n goeie voorbeeld van verouderde (indien nie argaiese) sosiale kommentaar – toegepas op nuwe aktuele temas. Hy kan liters trane stort oor korrupsie, kragonderbrekings, 2010 en verydelde struggle-verwagtinge maar op die ou end gaan slaap hy in die aande knus (en sober, en versadig) in sy huisie by die see, in ‘n demokratiese Suid-Afrika. Want dinge het actually verander…

    Onse Johannes Coetzee het wragtag hier ‘n diep ding beet…

    Wanneer laas het ons musiek gemaak wat die lewe uit die dood bliksem?

    Reply

  6. sjoe. elke keer as jy ‘n inskrywing maak oor iets so na aan my hart sit ek weer regop op my stoel ;) mal cool inskrywing. dis een saak om ‘n “revolusie” te begin, progressie is ‘n HEEL ander storie.

    bygesê, dit is vrek lekker om as ‘n suid afrikaanse bandmember (want orkeslid klink net stoepit) in ‘n suid afrikaanse band te kan dink oor die toestand van die “revolusie”. maar daardie gedagtes vereis baie meer woorde as wat ek bereid is om hier te annekseer :)

    oor Inslowmotion.. :)
    ek gaan nie byvoeglike naamwoorde rondgooi en dit waag om te klink soos my vriend Tom deLonge nie.. een dink wat ek wel nou agtergekom het is dat daar nul verwysings is na die lewe in suburbia. dit klink nie asof die lirieke geskryf is met ‘n woordeboek byderhand nie. dis vrek eerlik en so opreg soos ons kan wees. dit is definitief iets anders. en ek sou soepper graag ‘n datum wou gee van die finale produk, maar ons het op die moeilike manier geleer hierdie goed vat baie langer as wat mense dink :) ek gaan dit waag om bietjie hollywood te wees en te sê.. dit gaan verseker die wag werd wees though :)

    sjoe, nou voel ek heel skuldig dat my comment post tien keer meer promo was as opinie oor jou inskrywing ;) sorry dude.
    sal op meer ads click om op te maak daarvoor.

    ps,
    Oktober 2008

    Reply

  7. Duskant se comment het my bietjie laat dink. En dit is so waar dat as jy buite jou eie ervaringsveld probeer skryf, die woorde leeg en sommer soos ‘n klomp rymelary klink. Dieselfde gebeur met die cover van ‘n song, of die keuse van ‘n lied deur ‘n ander skrywer gepen…. dit kan somtyds net nie eg klink nie. ‘n Simpel voorbeeld sal wees om ‘n Belgiese groep te kry om De La Rey op te neem. ‘n Ekstreme voorbeeld om my punt te maak.
    Aan die anderkant, soos jy ook noem, kan ‘n ervaringsveld onderwerp al so holruggery wees, dat mense begin belangstelling verloor. Dis dieseflde soos die regerign wat al hul tekortkominge op apartheid wil blameer. Mense begin belangstelling verloor.
    Die kuns lê seker maar daarin om dan jou ervaringsveld aanhoudend te probeer uitbrei en soos jy regtelik genoem het, te besef daar gaan baie meer in die land aan. Ek hoop al die Afrikaanse rockers gaan dit regkry. Ek sit ook in spanning en wag vir “Musiek wat die lewe uit dood uit donder”

    Reply

  8. Julle maak almal baie goeie punte.

    Ek dink nie noodwendig ‘n mens hoef ‘n ekspert oor iets te wees om kommentaar te lewer daarop nie. (Gevaarlike woorde ek weet.) Veel eerder help dit om bloot ‘n skerp verstand en ‘n goeie skoot kritiese denke aan die dag te lê. Van die beste komediante en satirici is nie noodwendig politieke kenners nie, maar kan situasies baie goed opsom vanweë hulle skerp intellek. Ek dink daar’s ‘n hele paar lirici daarbuite wat dieselfde kan doen.

    (Cobus – Jy kan maar promote hier soos wat jy wil. Jy weet ek gaan jou in elk geval promote sodra ek my getekende kopie kry ;) )

    Ek het nog nie Bloedriver geluister nie. Is dit die moeite werd?

    Reply

  9. @ Johan – volgens my, nee (tensy jy nognie ‘n versadigingspunt bereik het vir Koos Kosbuis se [deesdae] eendimensionele protes-prosa nie).

    Reply

  10. Dan sal ek dit maar moet koop en luister ;)

    Reply

  11. Jip, Koos se albums is soos albasters toe ons klein was – daar is mooies en lelikes, maar jy moet hulle almal hê as jy jou storie in albastergooi wil ken!

    Ek, vir een, bly steeds ‘n Koos fan tot die bittere bittere einde ;-)

    Reply

  12. Cobus lyk na ‘n vriendelike kerel. Glimlag die heeltyd.

    Reply

  13. Nog nie die indent bug gekry nie sien ek…

    Reply

  14. nope, dit moet maar wag tot na serfinaal. dis hierdie vrydag.

    whoohoo! :-)

    Reply

  15. (cobus is ‘n legend)

    Reply

  16. Dis ‘n moeilike een. Ek dink dis dalk onregverdig om van ‘n bedryf wat nog in sy beginfase is, kom ons noem dit ‘n tienerfase, te verwag om binne 3 jaar te evolueer tot iets heeltemal volwasse en anders.

    En as daar van rockgroepe verwag word om Koos Kombuis se “Fokkol song” na te volg, dan verkies ek eerder voorstedelike tienerangs.

    Reply

  17. Dalk, maar as ‘n industrie bestaan uit bands wat een tema holrug ry, gaan hy dalk nie eers sy voorgraadse jare haal nie.

    Reply

  18. Ons behoort binnekort uit te vind:

    Fokofpolisekar se Antibiotika
    Foto na Dans se Pantomime van Herwinbare Klank (of so iets)
    Van Coke Kartel se nuwe CD
    Die Heuwels Fantasties
    aKing se nuwe kortspeler

    Hierdie CD’s behoort ‘n aanduiding te gee van die rigting waarheen (Suid-) Afrikaanse musiek op op pad is.

    Reply

Leave a Reply

CommentLuv Enabled