Laat die skinny jeans waai

Sedert Fokofpolisiekar se debuut in 2003 (As jy met vuur speel, sal jy brand, Rhythm Records) het daar 'n revolusie op die Afrikaanse rocktoneel plaasgevind. Nuwe bands pop die afgelope paar jaar soos paddastoele op en is 'n stem vir die ontnugterde wit, Afrikaanse jeug wat nie lekker weet waar hulle na Apartheid inpas nie.

Ofskoon so lui die algemeen aanvaarde mitologie van Afrikaanse rock. Wynand Myburgh self het voor die bekendstelling van Fokofpolisiekar se eerste album die volgende tydens 'n onderhoud kwytgeraak:

[Dit] gaan oor baie meer — oor die vrees waarmee 'n jong generasie rondloop, en die bevryding van instellings en strukture wat van kindsbeen op mens afgedwing word.

Uit met die Voortrekkers, in met die skinny jeans.

Sedert 2003 het Fokofpolisiekar die tematiek van As jy met vuur speel, sal jy brand meesterlik ontwikkel op verskeie albums, tot 'n uiteindelike hoogtepunt in die knap vervaardigde Swanesang in 2006. Sentraal tot hierdie tematiek is 'n spreker wat, nadat hy die bakens van gesag uit sy jeug stelselmatig verwoes het, naarstig op soek is na iets om die selfgemaakte gate in homself mee te vul. Einde ten laaste vind hy dit nie en word luisteraars gekonfronteer met die ontboeseming van 'n “skynheilige” wat met 'n kloppende kop wil weet wanneer “die revolusie verby is” (Ek skyn heilig, Swanesang) en sy “kardeurknoppie [afdruk]” by verkeersligte (Vasbeslote Korporasie Deel 2).

Vir baie jong Afrikaners het hulle musiek 'n glimmer solidariteit in 'n verwarrende morele landskap verteenwoordig. Binne die bestek van vyf albums het Fokofpolisiekar brandende kwessies aangespreek en verdien hulle sonder meer 'n plek in die Afrikaanse rockkanon. Elke album bied iets nuut – van die rou agressie van die eerste album tot die ontnugterde introspeksie in Swanesang. Of jy van hulle hou het of nie – hulle musiek was ten minste onopgesmuk.

‘n Mens sou dink dat hierdie golf van vernuwing – die rennaissance van die skinny jeans – sou oorspoel in die verskeie nuutskeppinge en klone wat gevolg het. Dat hulle sou voortbou op die kwessies wat Kennedy en kie in hulle lirieke aanraak of dit ten minste kritiseer.

Dit het nie gebeur nie.

Die kitaar het die fan gestrike. Fokofpolisiekar se bevraagtekening van ou norme het aanleiding tot 'n nuwe status quo gegeeeen waarin heeltemal te veel Afrikaanse rockgroepe vasgehaak het. Die meeste (selfs 'n groot kanon soos Foto Na Dans) sing op die een of ander manier oor die passé tema van 'n middelklas lewe waarin iemand kwaad is vir die kerk, hulle ouers of een of ander gesagsfiguur.

Dit raak afgesaag. 'n Mens kan net soveel keer aanhoor hoe saai die lewe in suburbia is. Daarna raak dit irriterend – veral as 'n mens besef hoe bevoorreg jy eintlik as Suid-Afrikaner is om in daai huis met die lopende water en die internetverbinding te woon. Dis een ding om te kla oor die probleme van jou voorvaders, dis 'n ander om te draal met 'n oplossing.

Foto Na Dans stel binnekort hulle volgende album vry (die kortspeler is klaar beskikbaar). Straatligkinders ook. Inslomotion se debuut is sterk op pad. Van Coke Kartel is tans besig om hulle volgende album op te neem. Ek hoop van harte dat al hierdie nuwe materiaal (sowel as dié van ander groepe) begin neig na nuwe tematiek. Wil Afrikaanse rockers nie maar vir 'n slag begin peins oor VIGS nie? Dalk oor korrupsie? Of die Afrikanerdiaspora? Kospryse? Xenofobie? Fetale alkoholsindroom?

Almal weet nou hoe dit is om kwaad te raak vir jou ouers en hulle kerk. Dis tyd om die skinny jeans 'n trekpas te gee en na die land as 'n geheel te begin kyk. As dit nie gebeur nie, is ek bevrees, gaan die rennaissance binnekort begin vrek.

This entry was posted in Musiek and tagged , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>