Apatie nie studente se skuld

Die oorspronklike uitgawe van hierdie rubriek is in vandag se Die Matie gepubliseer.

“Studente is te apaties.” Dít is die credo van elke SR-verkiesing die afgelope paar jaar (en, as ek moet raai, 'n hele klompie jare voor dit). “Stemgetalle is uiters laag – studente steur hulle nie aan die SR nie. Ons moet iets daaraan doen!” Jaar in en jaar uit moet studente aanhoor hoe apaties hulle is, hoe kardinaal belangrik stemme vir enige gesonde demokrasie is en hoe dit almal se plig is om 'n kruisie te gaan trek langs die bakkies van die ou wat een keer langs die Dagbreekbakkie verbygeloop het.

Het jy nou al 'n groter gekkestorie in jou lewe gehoor?

Wees gerus eerlik met jouself. As jy 'n gemiddelde student was (ek weet, dis maklik om 'n mens dit voor te stel) wat nagenoeg geen insae in SR-vergaderings het nie en jaarliks vir 'n skamele week gebombardeer word met 'n oormaat oorywerige plakkate, sou jy enigsins omgegee het?

Dalk lê die oorsaak van die apatie nie by studente nie – dalk lê dit by die kandidate self. Te dik vir 'n daalder? Oorweeg dan die volgende: al wat omtrent elke kandidaat jaarliks doen, is om 'n foto van sy of haar gesig te neem, dit op 'n A3-vel papier te sit, dit te fotostateer en ad nauseum oor die kampus te pleister. Orals sien jy stralende gesigte met onderskrifte (sommige intelligent, sommige vreemd, sommige pleinweg swak) wat jou soms nie eers behoorlik versoek om te stem nie.

Waarmee laat dit ons? Wel, met glimlagte. Groot, gekromde mondhoeke wat nie 'n woord skeef kan sê nie. 'n Paar jaar gelede was die regte gonswoorde “die toekoms van koshuistradisies” en “die US se alkoholbeleid”. Nou is dit “eenheid in diversiteit”, “aktiewe transformasie” en “Matietrots”. Die kwessies opsigself is nie irrelevant nie, maar om hulle bloot op jou plakkate en missiestelling te noem, beteken nie werklik veel nie. Uitgenome die magdom plakkate wat ons moet verteer, is daar ook nie veel meer as sirkusse (nou koukusse) om kennis te maak met die klomp karakters wat hulleself verkiesbaar stel nie. Dus: ten einde stemme te werf, doen kandidate hoofsaaklik twee dinge. Hulle glimlag. En sit op stoele.

En dan wonder mense hoekom studente nie stem nie.

Waar is die kandidaat met die megafoon, die borsspelde, die plakkers en die vlaggies? Waar is die ondersteuners wat pamflette uitdeel en die kandidaat se seepkissie orals op kampus volg terwyl hulle studente luidkeels maan om hulle kruisies langs ene kandiaat se naam te trek? Waar is die veldtogte en die saamtrekke, die skaamtelose selfpromosie tydens rustyd in sportwedstryde, die skielike belangstelling in en foto’s saam met skaakspelers en daai ouens met die baarde wat saans triktrak (ja, dit is die amptelike Afrikaans vir backgammon) voor Jeff’s Place speel? Waar is die videopropaganda op die Neelsieskerm? Baniere in die bibgat? Skindernuus? Gratis bier?

In Amerikaanse tienerflieks?

Kandidate is te gemaklik met die hele proses. Dis asof hulle verwag dat daar vir hulle gestem moét word. Bloedweinig nader studente egter op grondvlak om hulleself te bemark – so asof die blote feit dat hulle genomineer is genoeg is vir mense om van hulle notisie te neem. (Dit is natuurlik nie, en kort antwoorde by 'n koukus, waar daar boonop 'n tydsbeperking is, is selde genoeg om 'n geheelbeeld van enige kandidaat te vorm.)

Die werklikheid is ongelukkig dat studente niks meer as ontsierde fakulteitsmure tydens 'n verkiesingstydperk sien nie. So verbeel jouself gou weer jy is 'n gemiddelde student wat daagliks tussen 4 en 18 Augustus klasdraf. Die kampus lyk soos altyd – jou brein sny die oordosis plakkate outomaties uit. Al wat jou nader met 'n versoek, is bergies en kennisse wat in die verbygang wil weet of alles nog wel is. Sê nou iemand loop jou trompop en beskuldig jou van verkiesingsapatie. Met net 'n klomp plakkate en 'n amper stemlose korpus kandidate, sal jy hom ernstig opneem?

Ek sou nie…

This entry was posted in Matieland and tagged , , , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>