Niemand kan jou keer nie

Wat is die essensie van 'n blog? Dave Duarte meen dit is:

…the amateur enthusiast who writes about the subject she believes in and participates in a community of other amateur bloggers who have a similar interest in the subject.

Op die oog af lyk dit nogal asof dit waar kan wees – die internet bied aan elke Jan Rap en sy maat 'n seepkissie om op te sanik. (Dit bied egter nie 'n stadion vol toeskouers saam met die podiumpie nie. Daarvoor moet jy werk.) Ons skryf omdat ons ‘n druppel onsterflikheid wil drink voor ons die sleutelbord in die plafon steek.

Tog kan ek nie heeltemal met Duarte saamstem nie. Die vernaamste rede is bloot dit: hy het sy feite verkeerd.

Bes moontlik die bekendste politieke blog in Amerika – Instapundit – word geskryf en onderhou deur Glen Reynolds. Reynolds is 'n Professor in die Reg by die Universiteit Tennessee. Hy is natuurlik nie al ekspert op die internet nie – reg oor die wêreld het kenners op verskeie gebiede dikwels blogs waarop hulle hul mening kan lug oor so te sê enigiets: insluitende hulle eie vakgebied. Op plaaslike bodem is daar die blogs van 'n bekende joernalis, 'n antropoloog, 'n liedjieskrywer, 'n ingenieur, 'n grootkop in die advertensiewese, 'n premier, 'n burgermeester, 'n Professor in die Reg en verskeie ander nie-so-amateuragtige individue. (Daar is nog vele ander. Gaan soek hulle.)

Dit is natuurlik so dat 'n joernalis soms onkundig is op die gebied van rekenaarhardeware of dat 'n burgermeester nie altyd besef dat lae kwaliteit video met swak klank nie baie aantreklik vir die gemiddelde internetgebruiker is nie. Hierby is almal van ons natuurlik ook 'n amateur op die speelveld van die lewe – 'n onderwerp waaroor nagenoeg almal van tyd tot tyd probeer skryf. Amateurs is daar beslis, maar dit beteken nog nie die essensie van blogs is amateuragtigheid nie. Ek begryp Duarte se sentiment, maar dink dit kan beter verwoord word sodra daar ondersoek ingestel word na die aard van 'n blog op 'n veel meer konkrete vlak.

Blogs is webtuistes. Webtuistes is publikasieplatforms. Publikasieplatforms is veelmaals 'n neksus vir nuwe idees of die verfyning van oues. Hoewel daar amateurs op verskeie vlakke opduik (soos seker maar die geval met alles in die lewe is), is daar ook verskeie hoogs intelligente individue, wat soms – vry van die vanselfsprekende beperkinge van die tradisionele media – uiters nuttige woorde kan neerpen. Duarte is die beliggaming van hierdie einste verskynsel – hy blog self.

Die essensie van blogs lê myns insiens nie noodwendig in bloggers se amateuragtigheid nie, maar eerder in die demokratiese onafhanklikheid daarvan – die soms anargistiese see van idees waar enigiemand kan skryf wat hy of sy wil, sonder om 'n vrees vir sensuur te koester of deur ekonomiese faktore gepootjie te word. Of jy nou 'n stotterende sot of 'n fotogeniese genie is – met 'n blog kan jy skryf wat jy wil, waaroor jy wil, wanneer jy wil.

Niemand kan jou keer nie. Dít is die essensie.

___

Is blogs die speelveld van amateurs?

View Results

Loading ... Loading ...

This entry was posted in Blogging and tagged , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>