Vandag is my afdag by die universiteit en omdat ek boonop na die serfinale op antibiotika is (lank lewe lae immuniteit) kan ek nie veel doen behalwe in my kamer sit en blog nie. (Julle moes dit nou al seker agtergekom het.) Ek het toe maar BakGat gekyk – 'n film waarna ek al lankal wou loer juis omdat dit volgens almal wat dit gesien het (en die ouens wat tydens die KKNK 'n pamflet in my hand gestop het) ligjare beter as Afrikaans se mees onlangse poging tot 'n lokettreffer (synde Poena is Koning) is.
Aan die ander kant van hierdie oordosis positiewe kommentaar (iewers moet iemand tog 'n antitese gee vir beskrywings soos: “jis, dis fokken cool”) is daar 'n goeie vriend wat dit nie so positief beleef het nie. Hierdie vriend (hy kan homself later hier identifiseer, sou hy wou) stel net soos ek baie in filmproduksie belang en was teleurgesteld oor verskeie tegniese foute te vinde in die film.
Dis natuurlik altyd makliker om te kritiseer as om te komplimenteer, so laat ek sommer lekker eerlik wees: BakGat is nie so sleg verfilm nie. (Ha – julle’t gedink ek gaan skryf dit suig, né?)
‘n Mens kan duidelik sien die film is in HDV geskiet. Soos met Poena is Koning laat dit 'n mens outomaties besef jy kyk na iets wat nie soos film “lyk” nie (DOP ftw). Soms was daar blatant vanselfsprekende foute (soos skooltonele wat lyk asof dit net voor skemer verfilm is of klankeffekte wat van toonhoogte moes verander om die doppler-effek te simuleer, maar slegs 'n volumeverandering ondergaan het), maar oor die algemeen is BakGat veel meer professioneel verfilm as baie ander Afrikaanse films. Vir wat hulle reggekry het, dink ek, verdien Henk Pretorius en sy span lof.
Dit is 'n kommersiële film. Die storielyn is 'n Hollywoodformule ingeënt met Africana: onder leiding van 'n wraaksugtige meisie (Katrien) raak die grootste bleeksiel in die skool (Wimpie) 'n rugbyheld. Alles wat jy sou verwag van 'n Amerikaanse tienerfliek is daar: die maagdelike ouens op soek na seks, die hoofkarakter se verleentheid vir sy ouers, 'n kultuur van jocks wat nerds poetse bak, die protagonis se dramatiese toespraak voor die hele skool aan die einde van die film. Alles is daar, tot die finale soen met die kamera wat draai. Ten spyte hiervan is daar 'n wending in die verloop van die film wat my onkant betrap het en 'n goeie skoot talent onder die poel akteurs. Op 'n narratologiese vlak is daar ook veel meer moeite in die storielyn gesit as wat 'n mens verwag. Ek het veral geglimlag vir 'n toneel waar Wimpie 'n varkie suksesvol terugsteel van Katrien se Oupa (‘n oud-springbok) se buurman.
BakGat is nie baanbrekerswerk nie, maar as tienerfilm dit doen wat dit moet doen. Jy behoort uit die teater te stap met 'n warm gevoel in jou binneste en mense om jou wat obskure grappies maak oor die bar humor wat hulle sopas gesien en geniet het. Is dit beter as Tsotsi? Nee. Dis 'n poep deur 'n Pepstores onderbroek in vergelyking met Tsotsi. Is dit egter beter as die sogenaamde Schusterfilms waarmee Afrikaners vir jare al gebombardeer is? Beslis.
Die film is suksesvol geskryf vir 'n sekere marksegment. Dit help nie om dit te analiseer asof dit 'n kunsfilm is nie, want dit is bloot nie een nie. Dis nie asemrowend nie – dis oulik. En daarmee is daar niks fout nie. Al was daar hier en daar tegniese foute en plek-plek lomp kinematografie (‘n mens wys nie aksie uit net een kamerahoek in 'n adrenalienbelaaide toneel nie, genugtig…) het ek dit geniet om te sien hoe getransformeerde Wimpie en skone Katrien bymekaar uitkom.
Wat dink jy?