WordCamp SA ‘n relatiewe sukses

Dit het gereën, die Wild Fig was vol Macbooks en Matt Mullenweg het gepraat. WordCamp SA, die eerste van sy soort in Suid-Afrika, was 'n sukses. Relatief, in elk geval – die meeste sprekers het sinvolle, interessante aanbiedinge gehad, hoewel ek soms die gevoel gekry het dat dit nie altyd oor WordPress gegaan het nie.

‘n Kort opsomming:

09h45 | Premium Rated Themes | Spreker: Adriaan (Adii) Pienaar

Adii se aanbieding het hoofsaaklik oor sy eie onderneming (WooThemes) gehandel. Dit was 'n oorsig van die ontstaan, ontwikkeling en huidige status van sy sny uit die WordPress primatema-pastei (hoe’s daai vir 'n neologisme?). Ek kon eerlikwaar nie die punt van hierdie aanbieding sien nie. Dit was niks minder as 45 minute se bemarking vir Adii nie. Sy temas lyk natuurlik professioneel - ek het juis in 'n vroeë stadium van hierdie blog se ontwikkeling een van sy temas (NewsPress) gereverse engineer met die gratis Options, omdat dit so 'n knap stukkie werk is. Hy was 'n borg vir die geleentheid, so in retrospect maak dit seker sin dat hy gepraat het.

10h30 | M&G Social Media – Powered by WordPress | Spreker: Vincent Maher

Maher het 'n oorsig van Amatomu en ThoughtLeader se gebruik van WordPress gegee, met een belangrike les: moet nooit die kern (core) van 'n WordPress installasie verander nie, aangesien dit nagmerries veroorsaak as jy wil opgradeer. 'n Interessante praatjie oor wat mense motiveer om te blog, hoekom mense stop, hoe joernaliste oor bloggers voel en dies meer.

11h15 | The Times Social Media – Powered by WordPress | Spreker: Justin Hartman

Soos Maher het Hartman 'n oorsig gegee van Planet Blog (The Times se weergawe van ThoughtLeader) se gebruik van WordPress. Weereens 'n relatiewe interessante praatjie, met dalk 'n bietjie te veel bemarking vir Planet Blog en dieselfde les as Maher: as jy hoofbrekens soek, breek die WordPress core.

12h00 | Building an Online Business | Spreker: Matt Mullenweg

Soos verwag was dit die hoogtepunt van die dag. Matt is 'n aangename, nederige ou wat sterk glo in opensource sagteware. Hy meen “selling software is dying”. (‘n Meer volledige opsomming oor wat hy te sê gehad het, is by Pam Sykes beskikbaar.) Ek het ontsaglik baie uit sy praatjie geleer oor veral aanlynadvertensies. Om geld te maak op die internet is toenemend 'n kwessie van oorvloed, eerder as skaarsheid wat tradisioneel die basis van elke ekonomie is. Al het ek net geleer dat 500 pageviews op 'n dag te min is om werklik geld te maak met aanlynadvertensies, het ek genoeg uit sy praatjie gekry.

12h30 Interview with Matt Mullenweg | Sprekers: Tyler Reed & Matt Mullenweg

Ek kan eerlikwaar nie 'n enkele vraag en / of antwoord onthou nie. Matt het gepraat – wat meer is daar om te weet?

13h00 | Eating Time: Lunch Time

Die etensuur (eintlik was dit twee ure) was die swakste georganiseer van die hele dag. Baie mense het onder die wanindruk verkeer dat, aangesien die geleentheid deur verskeie besighede geborg is, daar gratis kos ook sal wees. Dit was egter nie die geval nie en ons moes self baie sentjies uithoes vir redelik min kos. Omdat daar ongeveer 'n honderd mense was, moes jy teen 10:30 reeds besluit wat jy wil hê. Toe die volgende sprekers moes begin praat, het restaurantpersoneel en kelners die hele tyd voor verby die skerm geskarrel, wat later irriterend begin raak het.

Die res

Na die etensuur het Dave Duarte gepraat oor Lifestreaming met WordPress, wat in wese maar 'n praatjie oor 140 woord Twitter feeds was. Duarte is egter 'n uitstekende spreker, so dit was lekker om te luister na sy praatjie oor…Twitter feeds. Warwick Poole, 'n oud Suid-Afrikaner, het toeskouers 'n kykie gegee in die tegniese werkings van 'n WordPress.com blog.

(Van die os op die jas - ek dink Twitter is insanely stupid. So stupid dat ek dit in Engels skryf. Steeeewpit.)

Voordat die dag afgesluit is met Rafiq Phillips wat ten minste 6 t-hemde gedra het om verskeie dinge te bemark, het 'n onaangekondige spreker (sy naam ontglip my) 'n praatjie gelewer oor 'n handige plugin wat hy geskryf het om kaarte mee te trek en punte daarop te plot. Phillips het die dag laat eindig op 'n effense antiklimaks, aangesien dit baie onduidelik was wat presies hy wou doen tot ten minste die helfte van sy spreekbeurt verby was (hy het die bedankings behartig).

WordCamp 08 was relatief suksesvol. Daar was probleme met die gratis WiFi en die dag het op 'n antiklimaks geëindig na Matt se praatjie, maar vir 'n eerste keer was dit glad nie te sleg georganiseer nie. Hopelik kan die organiseerders volgende keer weer vir Matt kry en sprekers maan om meer oor WordPress en minder oor hulleself te praat. Desnieteenstaande was dit pret, al was dit net om saam met 'n klomp medebleeksiele in 'n vertrek te sit en bleeksielerig wees.

This entry was posted in Blogging and tagged , , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>