Dood van ‘n musikoloog (‘n allegorie)
Daar was eendag ‘n rockliefhebber wat nie van skinny jeans gehou het nie. Hy was ‘n musikoloog en kon nie verstaan waarom mense broeke aantrek wat hul onderlywe striem nie. Die een keer wat hy dit in ‘n klerewinkel gewaag het om ‘n paar aan te pas, het almal vir hom gelag. Bowendien het hy simpel gevoel nadat hy by sy musikoloogvriende gaan kuier het en tog skinny jeans gedra het. Hulle het hom uitgejou en hy het dom gevoel.
So baie soos hy daarvan gehou het om slim te voel, so baie het hy egter ook van rock gehou. (Dit was natuurlik nie sy skuld nie – sy ma het hom rocktreffers gevoer vandat hy kon opgooi.) Die musiek was vir hom ‘n ontsnapping van die sieldodende academia waarbinne hy note partymaal moes ontleed asof dit lyke was: wanneer die motiewe, tonale tematiek en rekapitulasie hom oorweldig het, het hy dit geniet om sy hoëtroustel hard te stel en sy kop roekeloos op die maat van elektriese kitare te stamp.
Maar skinny jeans kon hy nie dra nie.
Dit lyk tog so simpel, het hy geredeneer. En dit hou bloed van die brein af weg. ‘n Mens kan nie oopkop oor dinge dink met ‘n gordel om jou heupe nie.
Soms het hy kwaad geraak vir rockliefhebbers wat skinny jeans gedra het, want hulle het self nie altyd mooi verstaan waaroor die musiek gaan nie. Dit was vir hom baie onregverdig, want hy van alle mense – hy wat die stywe broeke verafsku het – het dit begryp. Hy het die musiek se boodskap so mooi verstaan dat hy dit in sy slaap kon resiteer, maar kon homself nooit sover kry om dit te verkondig nie, want dan het selfs die skinny jeans vir hom gelag.
Hy kon nie by vertonings uitkom nie, maar hulle was in elk geval nooit daar nie. Hy kon dit bewys. Logies. Daar was te veel foute op die pamflette en plakkate wat die denimdraers as wegwysers na die musiek gebruik het. Spelfoute was daar altyd in oorvloed op die plakkate, kodewisseling in die pamflette, ‘n oormaat wisselende stylvlakmerkers en heeltemal te veel visuele anomalieë. Soms was dit duidelik dat die lig nie reg geval het in ‘n prentjie nie of dat die fotograaf primitiewe toerusting gebruik het. Een keer het hy selfs plagiaat op ‘n pamflet ontdek. Dit was ‘n duidelike teken dat die vertonings nie werklik plaasgevind het nie.
So het dit aangehou tot sy dood. Hy het rockmusiek heimlik liefgehad, maar kon die skinny jeans nie aantrek of die plakkate verdra nie. ‘n Vertoning het hy nooit bygewoon nie. Soms, wanneer sy musikoloogvriende nie gekyk het nie, het hy sy oë gesluit en woes air guitar op sy knieë gespeel. Dit was die kere wanneer hy die vryste gevoel het. Wanneer hy gewonder het hoe sy aande sou wees as hy die plakkate se aanwysings nagevolg het, het hy die gedagte vinnig uitgedoof met ‘n strukturele analise van ‘n simfonie of ‘n kunslied.
Hy was juis een aand besig om hiermee te worstel, toe hy homself per ongeluk met ‘n strykstok deurboor en op die toneel beswyk het. Bloed het uit sy keel geborrel en sy partitas bemors. Sy roudiens is bygewoon deur ‘n dwelverslaafde en ‘n tiener met aknee. Teen die wense van sy kollegas is hy met skinny jeans om sy heupe veras.
Soms, as die fugas te veel geraak het, het hulle heimlik hul hoëtroustelle hard gestel en roekeloos op die maat van elektriese kitare kopgestamp.


Ek is baie jaloers op mense wat so met woorde kan speel. Uitstekend!
Reply
Skerp. Ek pik ‘n stil traan weg. Maar as sy skinny jeans die bloed van sy brein af weggehou het was sy kop nie op die regte plek nie.
Maar ek dink sy hart was wel.
Reply
DMI – ek ook
flippiefanus – dis nou wat my intrigeer. is ‘n hart alleen genoeg? ek dink amper dit is, al glo jy die musiek is daar of nie.
Reply
Baie baie cool skryfstuk…
Laat my op ‘n onverklaarbare manier aan “La promenade en chien” van Jan Rabie dink.
Reply
Wow, baie dankie
Reply