Kopieregoortreding of inkompetensie?

Nagenoeg alle bloggers ken die maklikste manier om 'n prentjie by hul nuutste inskrywing te kry: Google dit en voeg die mees toepaslike resultaat moeiteloos by jou woorde. Diegene met 'n gewete sal egter die volgende boodskappie oplet:

 

Die probleem met die internet is dat dit 'n massiewe fotostaatmasjien is. As iets daarop gelaai word, sal dit wyd en syd gekopiëer word – hoofsaaklik deur masjiene. Binne 'n kwessie van sekondes sal dit “crawled, indexed, mined, scraped, republished, and propagated throughout the Web” wees. Die begrip “oorspronklike kopie” (op sigself reeds 'n paradoks) sterf vinnig op die wêreldwye web, of jy daarvan hou of nie.

Sodra jy 'n dokument op jou rekenaar stoor, word dit in ieder geval gekopiëer vanaf jou rekenaar se geheue na die magnetiese plate van jou hardeskyf. 'n Digitale dokument kan in wese nooit 'n oorspronklike kopie wees nie. Oftewel, nie 'n fisiese een nie. Die vanselfsprekende argument is dat kopiereg nie oor magnetiese velde of elektriese stroombane gaan nie, maar oor idees.

Dis alles goed en wel: as ek 'n kunstenaar was, sou ek self nie heeltemal gelukkig wees as iemand my beelde en idees blatant kopiëer en voorhou as hulle eie nie. Is dit dan verkeerd om sodanige individue se digitale beelde met jou eie materiaal te integreer? Ek sou voorwaardelik “nee” wou argumenteer, om die eenvoudige rede dat, indien die regte stappe gevolg word, daar nooit 'n diefstal van intellektuele eiendom kan wees om mee te begin nie.

Plagiaat, daardie allervreeslike monster van die akademie, is in wese maar om iemand anders se idee(s) voor te hou as jou eie. Om PrintScr te slaan, jou fonds in Photoshop te gaan plak, dit na jou eie bediener te stuur en in 'n post te publiseer, is ongetwyfeld om iemand anders se werk – hoe sleg ook al – as jou eie voor te hou. Om egter op die korrekte manier daarna te verwys is so ver van diefstal af as Steve Hofmeyr van Anton Goosen.

Hoe gemaak om 'n bronverwysing vir 'n beeld te kry? Jy link daarna, natuurlik. Sodra 'n leser op die beeld kliek, neem dit hulle webblaaier direk na die “oorspronklike”. Dis egter nie eers nodig om dit te doen nie; al wat nodig is, is 'n bietjie verstand. Hier is die aarde weer:

Kliek daarop. Dit gaan nêrens nie. Beteken dit ek het iemand se kopiereg geskend?

Die antwoord lê in jou die regterkantste knoppie vir jou muis. Enige webblaaier – selfs die disfunksionele Internet Explorer – maak dit by verstek moontlik om die bostaande beeld se bronkode te besigtig. Toets dit: regskliek die bostaande prentjie en kies “Properties” (of watter sinoniem jou blaaier ook al daarvoor bied). Die nodige inligting oor die beeld, insluitende die oorspronklike adres daarvoor (http://www.spacetoday.org/images/SolSys/Earth/EarthBlueMarbleWestTerra.jpg) is ooglopend sigbaar.

Beter nog, regskliek die webtuiste as 'n geheel en bekyk die bladsy se bronkode (page source). Daar, tussen divisions en header tags, lê ons skakel rustig en slaap:

…is &#8216;n bietjie verstand. Hier is die aarde weer:</p>
<p style=”text-align: center;”><img class=”aligncenter” src=”http://www.spacetoday.org/images/SolSys/Earth/EarthBlueMarbleWestTerra.jpg” alt=”" width=”324″ height=”324″ /></p>
<p>Kliek daarop. Dit gaan nêrens nie. Beteken dit ek het iemand se kopiereg geskend?</p>

As jy regtig cool is, doen level one hacking met 'n draadknipper op jou telefoonlyn of netwerkkabel en onttrek die nodige inligting op 'n manier wat jou sak pas. Die resultaat behoort dieselfde te wees: dis uiters duidelik dat ek die beeld nie as my eie voorhou nie. Hoewel dit met die eerste oogopslag of erkenning aan die “oorspronklike” bron ontbreek, beteken dit nie dis nie daar nie.

Al wat iemand werklik kan laat dink ek oortree kopiereg, is hulle eie inkompetensie – en dis tog sekerlik nie 'n goeie rede nie?

This entry was posted in Blogging and tagged , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>