Urgh. Gister moes verskeie studente by die universiteit weer die aftog blaas voor die immergroen hardkoppigheid van 'n beurokrasie wat, om dit ligtelik te stel, uiters onvriendelik is. Dis vakansie (oftewel 'n weeklange studiebreek) en studente in verskeie koshuise moes hul kamers teen 17:00 die middag ontruim. Hoekom? Sodat rugbyspelers van elders vir 'n paar dae in hul plek kan vertoef.
Kom ek plaas dit in perspektief.
Om jou kamer te ontruim, beteken om elke enkele besitting uit jou kamer te dra – om jou klerekas uit te pak, jou beddegoed van jou bed te stroop, boeke van rakke af te haal, notas, leggers, skryfbehoeftes, bedlampies, eetgerei, breekware, yskaste, mikrogolfoonde, televisies, jou eie meubelstukke…alles moet verwyder word. Jou kamer moet lyk soos jy dit aan die begin van die jaar gekry het: skoon, leeg met net 'n lessenaar, 'n bed en 'n matras. Dit wat jy nie self huistoe kan karwei nie, kan jy in 'n stoorkamer sit en hoop dit word nie tydens die vakansie gesteel nie.
Daarna moet jy, al besit jy dalk nie 'n kar nie, met die res van jou besittings na die aangewese inblykoshuis piekel, om daar in 'n arme anonieme siel (wat ook moes ontruim) se kamer te gaan woon. Wanneer die vakansie verby is, moet jy die hele proses herhaal en die lang eksodus na jou koshuis hervat, alles teen verskeie stelle trappe opdra, jou hele kamer van vooraf inpak, die goed wat te veel of te swaar was uit die stoorkamers gaan haal en weer begin nes skrop.
Dis 'n uiters onnodige proses, maar Admin-A (die berugte administrasieblok wat meestal met die doen en late van studente gemoeid is) dring keer op keer daarop aan dat studente moet spasie maak vir welke rugbyspannetjie of kordon konferensiegangers ook al daar moet in. Hulle argument? Studente betaal slegs huur vir tien maande – in die oorblywende twee maande van die jaar kan hulle met hulle koshuise maak wat hulle wil. Praat van kliëntediens.
Daar is 'n paar ernstige probleme met hierdie sirkus:
1. Die ontruimingsproses kan slegs suksesvol afgehandel word deur studente wat taamlik naby die universiteit woon. Kom jy van Bellville, Paarl, Worcester, Kaapstad of Somerset-Wes af, is jou kop deur, want dan kan pappa of mamma 'n motor bring en al die besittings huistoe karwei. Kom jy egter van enige ander van die land se nege provinsies, Namibië, Zimbabwe (daar’s 'n hele paar van hulle hier) of selfs verder, is jy in jou peetjie in.
2. Die beperkte aantal stoorkamers kan gewoonlik nie almal se besittings berg nie. In die geval van Helshoogte is daar byvoorbeeld twee stoorkamers per seksie – dit beteken neëntien studente se besittings moet in twee kamers gelaai word. Omdat alles nie altyd lekker inpas nie, gaan die laaste stoorders soms onbewustelik rof met ander se besittings te kere (as jou rusbank nie pas nie, moet jy hom maak pas) wat heel gereeld breekskade tot gevolg het.
3. Diefstal is 'n algemene gevaar. Ek is vanjaar in my vyfde akademiese jaar in Helshoogte. Sedert my eerstejaar was daar jaarliks gevalle van vermiste goedere na vakansies – en nou praat ons van artikels soos mikrogolfoonde, duur pakke klere op hangers en handboeke. Die mees absurde geval wat ek al teëgekom het, het aan die begin van 2007 plaasgevind, toe 'n vriend van my sy rekenaar aangesit het en dit nie wou werk nie. Sy RAM en sy hardeskywe is gedurende die vakansie uit sy rekenaarkis gesteel, al het hy 'n kombers daaroor gegooi om dit weg te steek.
4. Daar word weinig van elke leë kamer gebruik gemaak gedurende vakansies. Ek het al verskeie kere iets ekstra in 'n stoorkamer of (tydens vakansies wat slegs derdejaars en jonger moes ontruim) my kamer gaan haal en niks meer as 'n weergalmende leegte gesien nie. Op 'n hele vloer met drie seksies – nagenoeg 60 studente – was daar gewoonlik nie meer as vyf tot tien mense gehuisves nie. Die res van die kamers was dolleeg. Hierdie keer is nie 'n uitsondering nie – Helshoogte kan byvoorbeeld 320 studente huisves. Na 'n gesprek met die matrone gistermiddag blyk dit dat daar slegs 200, “miskien 220″, rugbyspelers kom intrek.
Les bes is dit niks minder as onhoflik teenoor studente nie. Studente is kliënte (wat gereeld heuning om die mond gesmeer word met frases soos “vriendelikheid, gasvryheid en menswaardigheid“), maar word soos skoolkinders behandel. Ek moes vandag aanhoor hoe 'n student met Helshoogte se matrone probeer reël om hom in die koshuis toe te laat, omdat die inblykoshuis (Wilgenhof) nie vir hom plek gehad het nie. Dit was nie 'n vriendelike gesprek nie.
Hoe op dees aarde kan 'n universiteit wat aanspraak maak op gasvryheid hierdie eksodusse goedkeur?
Van die os op die jas – ek lees vandag iewers tussen 11:40 en 12:00 saam met my departementele kollegas gedigte voor by die Versindaba. As jy in die omtrek is, kom loer gerus by die HB Thom-teater op Stellenbosch in.