Met apologie aan die Bertus!
Die beste ding omtrent die Intel Q9550, vir my, is dat hy 'n mikroverwerker van silikon en itanium is, wat net daar op die toilet sit, sonder om te roer, sonder om te hoor wat jy sê of op enigiets te reageer. Ek hou van daardie eienskap van die Intel Q9550. Ek vind dit 'n bron van troos en wanneer ek my hare in my hande druk, omdat die res van my nuwe rekenaar eers môre in voorraad is, dan is sy stilte en sy doofheid die een standvastigheid in my lewe. Party mense soek 'n 80486 of 'n Macbook wat luister as hulle praat. Een wat met belangstelling na al hul skete en kwale en dramas gaan luister.
Die Intel Q9550 is nie so nie. Hy bly op die toilet sit ondanks die Kaapse storms, ondanks die hartseer oor 4 GB onafgelewerde RAM of twee 500 GB hardeskywe of wat ookal rondom hom moet kom. Soms, as ek die dag ontsteld is, dan sit ek regop met my bene gekruis en staar na die Intel Q9550, soms grom ek vir hom en sê “Doen tog net iets, Intel Q9550! My tesis val uitmekaar!” Die Intel Q9550 bly sit net daar, geduldig met 'n ligte kaaskrul iewers onder hom in 'n rioolrot se ingewande. En wanneer ek 24 uur later besef dat my wag die moeite werd was, as ek nie meer kan onthou hoekom ek selfs toegelaat het dat dinge my ontstel nie, dan sit die Intel Q9550 nog net so, sonder dat hy op hol gegaan het oor my dinge.
Ander kere, as ek regtig gelukkig is, dan dans ek rondom die Intel Q9550, of spring in die lug, dan skree ek “Kom Intel Q9550, wees 'n hyperthread saam met my!” Maar die Intel Q9550 bly net daar sit, en indien hy bly is, wys hy geen teken daarvan nie.
Soms lag ek. Ek brand kersies rondom die Intel Q9550, blaas seepbelle dat hy in 'n wolk verdwyn, sit waslappe voor sy voete en lui die voordeurklokkie terwyl ek vanuit die sitkamer sing. Die Q9550 sit net doodstil asof hy niks agterkom nie.
Dis soos die historiese 8086 wat in die eenduisendnegehonderdagtensewentigste jaar na Christus in Silicon Valley gebrom het, met net 'n paar mikroskopiese transistors om sy lyf, en kom multithreading, kom HD rendering, kom pixel shaders of Windows Vista, het hy net daar bly sit met sy oë op die moederbord onder hom, sy geheue onder sy verwerkingseenheid en 'n effense glimlag op sy lippe. Sonder om hom deur die wiskunde te laat rondneuk.
