Fassinerend. En siek. 'n Sekere LitNetblogger (hy heet Vroueslaner) het onlangs begin skryf oor hoe hy sy vrou slaan. In 'n inskrywing wat “blase” heet, skryf hy:
Dit het weer gebeur. Die houe was berekend, goed gemik. Daar waar die skade weggesteek kan word met klere… ribbes, skouers, maermerries,… die maag.
As ons net vanoggend oorvriendelik kan wees, Wimpy ontbyt, meskien 'n nuwe rok of blomme, dan is alles weer “all right”. Dan hoef mens nie “jammer” te se nie. As daar nie jammer gese word nie, laat dit haar TOG wonder of dit alles HAAR skuld was…
Indien hierdie ou die ware Jakob is, het ons 'n uiterse unieke situasie op hande – die soort wat ons seker laas op CNN gesien het toe die World Trade Centre deur kapers bevlieg is. Regstreeks, letterlik voor ons eie oë, het mense uit brandende torings gespring, is hulle in roet op, het hulle verkool en verpulp toe die torings inmekaargepannekoek het. En ons? Ons die oond gaan afsit of die wasgoed uit die wasmasjien gaan haal.
Nou sit ons (en ek herhaal: dis mits hierdie blog nie bloot 'n parodie of 'n eksperiment is nie) met iemand wat sy vrou amper regstreeks aanrand. Ons lees in detail hoe en waar sy geslaan word, ons verbeel ons hoe hulle ongemaklik die volgende oggend in die Wimpy vir die kelners probeer glimlag en ons begin die anonieme swernoot veroordeel. Maar ons kan net kommentaar los. Sy naamloosheid maak dat hy kan sê net wat hy wil – en sy naamloosheid maak dat ons net kan sê wat ons wil. Ons sien hoe die houe soos kadawers uit die World Trade Centre op 'n onskuldige Afrikanervrou neerreën, maar ons is magteloos om iets daaraan te doen.
Wanneer ons klaargelees is, sit ons die rekenaar af en vou die wasgoed op.
Weens die aard van die internet kan 'n mens in baie gevalle dinge anoniem kwytraak sonder om die gevolge daarvan te dra. Dit werp as ‘t ware 'n nuwe lig op etiek en moraliteit. Is dit vroueslaner se reg om te skryf wat hy skryf? Moet ons verplig voel om die vrou te help? Moet ons die polisie bel? Dalk haar man se IP trace? Of moet ons noodwendig simpatiseer? Mag ons vir onsself 'n katarsis hierin opsoek asof dit 'n griesselroman is? Durf ons dit snaaks vind?:
Is mense opreg wanneer hulle sulke dinge kwytraak?:
Skielik, blyk dit, is almal sielkundiges. Almal wil raadgee of vingerswaai, maar wanneer dit verby is, bly daar niks meer oor om te doen nie en is niks ook juis uitgerig nie. Dan bêre ons iemand anders se vuil wasgoed en gaan kruip ons onder ons eie lakens in.
Wat op aarde moet 'n mens met so 'n situasie maak – die antwoord gaan Google?