Soos voorgelees by die Versindaba 2008
spyt
vanaand is ek bly ons bly
nie in Darfoer nie
bly jou bene is vleis
sonder skrapnel (vlamloos
jou vel) jou lippe klam
ons torso’s wondloos en warm
ek is bly ons oortromme staan nog
mortiere fluit nie deur die voordeur
en kinderverkragters met tering
beleër die voorstoep nie
ons hardloop kamer toe en ek lag
ons vlug nie ons gly oor die lakens
jou rug is roetloos en ek raak oorstelp
die enigste landmyne is die hond s’n
vanaand is ek bly ons bly
nie in Darfoer nie
maar spyt
dat jou klere nog nie afgebrand het nie.