Nou die dag bel Solidariteit my. Ek – 'n armsalige studentjie wat nie veel kan bydrae tot hul geldkoffers nie. Maar hulle bel my. 'n Man begin my vertel hoe “hulle” nog steeds nie Afrikanerkultuur respekteer nie en hoe “hulle” Pretoria in Tshwane wil verander (en hoe absurd dit is, want dit gaan heeltemal te veel geld kos wat uit die belastingbetaler se sak moet kom), hoe “hulle” nie wil toelaat dat studente uit vrye wil kan kies of hulle wil “integreer” of nie, hoe regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging 'n grap is en hoe ek hierdie hele situasie kan verbeter deur aan te sluit by Solidariteit.
Ek was besig om 'n toebroodjie te smeer.
Dit was verstommend hoe laag hierdie beller my intelligensie geskat het (nie dat dit altoos vreeslik hoog is nie): klaarblyklik sou die noem van al hierdie “brandende” kwessies my so aangegryp het, dat ek dadelik die fooitjie sou betaal om aan te sluit by Solidariteit. (Wat my gebel het terwyl ek 'n toebroodjie gesmeer het.) Want ek is mos 'n wit, jong man, pas gegradueer (ek reken hulle het my naam op 'n alumnilys gekry) wat 'n blink toekoms vir homself soek. In Afrikaans. Trots, sonder die kniehaltering van mense wat nie soos ek lyk nie wat ook geleenthede gegun word.
Ek is wit, ja. En jonk is ek ook – en gegradueer. En ek gaan lieg as ek sê ek soek nie 'n blink toekoms nie.
Maar gee ek regtig om of die administratiewe hoofstad van Suid-Afrika se naam na Tswhane kan verander? Dink ek integrasie in koshuise moet op 'n vrywillige basis geskied? Meen ek regstellende aksie is absurd? Wil ek die Vaandel dra en die Fakkel laat brand en die koeksister kou?
Wel, nee.
So toe vra ek maar:
“Sal julle…um…asseblief vir my meer besonderheid via e-pos stuur?”
“Reg so, meneer. Wat is u adres?”
“GormenDIzer AT gmail DOT com”
“…Ekskuus?”
“G…O…R…M…E…N…D…I…Z…E…R”
“Dankie, meneer. Ons stuur dit so gou moontlik.”
Ek het nou nog nie 'n e-pos ontvang nie. Ek wag in alle erns – ek het selfs my toebroodjie verslind. En terwyl ek wag, kan ek nie begryp hoe 'n volk wat hulleself daarop roem dat hul God hul hierwees aan die gatkant van Afrika noukeurig bestem het, nie maar die minste wil raak, terugstaan, vier sillabes uitruil vir twee nuwes en saam met mense wat nie soos hulle lyk en klink in koshuiskamers wil intrek nie. Hul naastes sou dit tog waardeer het?
Daar is tog meer aan die Afrikaner as net 'n naam. As jou identiteit eers opgesluit lê in 'n plofklank, gevolg deur 'n trilklank, gevolg deur 'n neutrale vokaal, 'n sluitklank, nog 'n vokaal, nog 'n trilklank en 'n ongehinderde klinkstroom wat volgens die fonetiese alfabet ![]()
heet, sou ek reken jy is dalk in die sop.
Daar gaan nie minder plaasmoorde wees as die uniegebou in Tshwane eerder as Pretoria sit nie.