Broer Bond en die psige in die agtergrond (PG 16)

Met apologie aan Broer Renier.

So irriterend soos wat hardebaard godsdienstiges soms kan wees, so afgesaag kan hardeknater ateïste raak. Ek loop nou die dag weer Nathan Bond se blog raak en lees toe die volgende kommentaar raak:

Sjoe, ek vind dit tog vreemd dat jy so gal braak teen 'n entiteit wat jy glo nie bestaan nie. Ek stem met jou saam dat dit horrifiskokkend sou wees as daar regtig 'n god was wat sulke dinge toelaat om te gebeur [...] Máár, ek vra jou, hoekom is jy so (gewelddadig!) kwaad vir 'n mitologiese figuur?” (Alida)

Waarop Bond antwoord:

“God” is baie, baie eg en bestaan beslis… in die koppe van gelowiges. Dit is dáárdie god wat ek aanvat

Dis tog so 'n afgewaterde verskoning, nie waar nie? Ek het self al baie sulke argumente aangevoer – dit gaan nie oor slag nie, dit gaan oor die uitsny van dit wat vrot is; ons moet die samelewing beter maak deur die slegte idees met beteres te vervang ensomeer. Telkens is dit waar: ons moet immers verkragting probeer uitroei, ons moet almal menswaardig behandel ongeag of daar 'n uterus of 'n prostaat in hulle skuil, ons mag nie iemand verdagmaak op grond van sy of haar velkleur nie.

Tog kan 'n mens nie help om tussen talle van hierdie argumente mense te sien wat 'n wrok koester nie. Kritiese gespreksvoering leer jou nie net iets meer van die wêreld nie – bowenal leer dit jou iets van die persone wat aan die gesprek deelneem. (Nie dat Bond altyd krities is nie. Inteendeel.)

Die oom wat hiperkrities redeneer oor hoe straatnaamveranderinge baie geld kos wat elders aangewend kon word, vertel onbewustelik ook vir die wêreld dat hy nie van die naamveranderinge hoú nie. Dat hy dalk lief is vir die straatname, toenemend onveilig voel in 'n plek wat eens vir hom spesiaal was en dat die naamverandering hom selfs meer bedreig sal laat voel as wat hy wil erken. Die feminis wat die pamflette op straat teen chauviniste uitdeel, is dalk lelik deur die manlike geslag verwerp – die straatpredikers en hul akoliete wat na aborsieklinieke marsjeer met baniere en foto’s van fetusse wil dalk vir die wêreld wys hulle kan ook, ten spyte van 'n lae selfbeeld of iets dergeliks, iets vir die wêreld beteken.

Min mense doen iets sonder 'n agenda.

‘n Mens sou byvoorbeeld vir Bond (ek hoop van harte hy reageer op hierdie stuk) kon vra hoekom hy dit hoegenaamd nodig ag om teen 'n idee in iemand se kop – iets in intellectum – uitvaar. En hoekom spesifiek juis die idee van God. Sy antwoord is dalk: die idee is vals. Dit maak mense seer, dit hou hulle gevange, dit kniehalter persoonlike vooruitgang.

Waarop 'n mens dan seker sou kon reageer en vra hoekom hy nie ook uitvaar teen reklame nie. Advertensies vleg tog ook daagliks 'n draadjie swendelary deur ons alledaagse wêreld in die Simulacra en laat ons dinge oor onsself en die wêreld glo wat nie waar is nie. Ons gaan nié maerder raak as ons die verslankingspil koop of mooier raak as ons 'n duur kar aanskaf nie. Die inherente aard van reklame is om te lieg ten einde te verkoop – om 'n vals werklikheid aan iemand oor te dra tot hulle self daarin begin leef en geld aan Die Maatskappy gee.

Weinig “evangeliese” ateïste vaar uit teen die reklamebedryf, die leë beloftes van politici, feëverhale wat gevaarlike geslagsrolle van kindsbeen af aankweek, ouers wat deur hul swygsaamheid kinders wanpersepsies oor seksualiteit laat koester, die grootheidswaan van verliefdes wat nooit sal kry waarna hulle smag nie en 'n rits ander dinge wat veroorsaak dat mense “vals” idees in hul koppe het.

Hoekom? Want hulle het agendas. Die kans dat kerkbashers skryf wat hulle skryf omdat die kerk hulle iewers in die verlede seergemaak het, is baie groter as dat hulle werklik besorgd is oor wat in ander gelowiges se lewens gebeur. Dit laat 'n mens onwillekeurig dink aan Fokofpolisiekar se pragtstuk “Prioritiseer”, op die album Swanesang, waarin Francois van Coke vir 'n fokalisator skree: Jy’s gefok / en nou fok jy ons!

Die vraag, reken ek, wat 'n mens moet vra wanneer hardebaard godsdienstiges, ateïste of wie ook al jou met hulle intellek / Bybel / ego oor die kop kom voeter, is nie net: “is hulle reg?” nie, maar veral ook: “hoekom wil hulle graag hê die wêreld moet wéét hulle is reg”.

Want diep binne is ons almal eintlik so 'n bietjie gefok.
This entry was posted in Godsdiens, Mymering and tagged , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>