Ek kom nounet uit 'n informele vergadering met die Universiteit Stellenbosch se IT-afdeling (wat ek bygewoon het in my hoedanigheid as gemiddelde student) – enersyds met 'n glimlag om die mondhoeke, andersyds met 'n frustrasie wat in my binneste kom nesmaak het.
Die glimlag is afkomstig van twee dinge. Eerstens: van Helmi Dreijer, Senior Direkteur by IT, se vriendelike en gemoedelike aanslag. Die vergadering is gereël nadat twaalf studente (DC++ hub-eienaars) se netwerkpunte verlede week gedeaktiveer is. IT het 'n kwaai e-pos van die SAFACT (South African Federation against Copyright Theft) ontvang waarin hulle aangepraat word oor kopieregskending.
In 'n vertrek vol hub-eienaars, 'n paar benullose joernaliste (daar was 'n vrou wat byvoorbeeld die mees onsinnige en onkundige vrae op aarde oor p2p filesharing gevra het; 'n mens sou reken 'n publikasie sal ten minste iemand met 'n bietjie kennis oor die onderwerp stuur ), IT-verteenwoordigers en 'n SR-lid of twee, het 'n hoflike gesprek verloop wat duidelik te kenne gegee het dat daar nie sprake van 'n heksejag deur die universiteit op studente is nie. Dreijer was oop en eerlik oor hulle kant van die saak, wat 'n liefde vir sowel studente as tegnologie weerspiëel het.
Die tweede rede vir my gekrulde mondhoeke was SAFACT se dreigemente, wat onder andere deur hulle kliënte aangedryf is. Die gewone kanonvoer is gebruik: hul kliënte lei massiewe verliese as gevolg van seerowers op die hoë seë en studente landswyd is grotendeels verantwoordelik hiervoor. Dis 'n klassieke geval van groot maatskappye wat nog steeds nie kon agterkom hoe om digitale media te beheer nie en nou wil blaf sowel as byt. Veral kostelik is hoeveel geld en tyd hierdie maatskappye inspan om polisiemanne aan te stel eerder as om innoverende metodes van geldmaak na te vors.
Beskou byvoorbeeld hierdie aanbod van Wantitall.co.za:
Our Price:R 416.00Retail Price: R 593.00 You Save: R 177.00 (30%)
Delivery Time: 7 to 15 Working Days
Format: DVD
Vir die prys van tien films wat elkeen op 'n tamaai skerm geprojekteer word, gekyk word vanuit die gemak van 'n gestoffeerde stoel in 'n filmteater met Surround Sound, verwag DVD-maatskappye dat mense een film moet koop wat op 'n veel kleiner skerm vertoon sal word. Die beeldkwaliteit is outomaties swakker, die klank van 'n paar luidsprekertjies gerangskik in 7:1 Surround Sound kan nie naastenby al die oorspronklike frekwensies van 'n filmteater produseer nie en jou rusbank het dalk net al te veel gelëer (en is dalk net belëer met 'n wraaksugtige afstandbeheerdiktator).
En mense koop dit. Mense is bereid om tien keer meer te betaal om 'n ou film op 'n klein skerm met vrotter klank te sien.
Reggeraai: dis waar my frustrasie vandaan kom. Wie in sy regte verstand sal nié op die internet gaan soek vir 'n film as dit soveel kos om een in die hande te kry nie? Wie in Suid-Afrika, waar die broodlyn ietwat anders lyk as in die Amerika (waar die meeste van hierdie inhoud vervaardig word) kan bekostig om hulself so te vermaak?
Is dit iemand se rég om buitensporig wins te maak?
Kan 'n mens van filesharing as diefstal praat as die meeste Suid-Afrikaners nie die alternatief kan bekostig nie?
En wat moet ek van hierdie situasie dink as ek in die einste industrie wil gaan werk?
