Kopie

Ek kom nounet uit ‘n informele vergadering met die Universiteit Stellenbosch se IT-afdeling (wat ek bygewoon het in my hoedanigheid as gemiddelde student) – enersyds met ‘n glimlag om die mondhoeke, andersyds met ‘n frustrasie wat in my binneste kom nesmaak het.

Die glimlag is afkomstig van twee dinge. Eerstens: van Helmi Dreijer, Senior Direkteur by IT, se vriendelike en gemoedelike aanslag. Die vergadering is gereël nadat twaalf studente (DC++ hub-eienaars) se netwerkpunte verlede week gedeaktiveer is. IT het ‘n kwaai e-pos van die SAFACT (South African Federation against Copyright Theft) ontvang waarin hulle aangepraat word oor kopieregskending.

In ‘n vertrek vol hub-eienaars, ‘n paar benullose joernaliste (daar was ‘n vrou wat byvoorbeeld die mees onsinnige en onkundige vrae op aarde oor p2p filesharing gevra het; ‘n mens sou reken ‘n publikasie sal ten minste iemand met ‘n bietjie kennis oor die onderwerp stuur ), IT-verteenwoordigers en ‘n SR-lid of twee, het ‘n hoflike gesprek verloop wat duidelik te kenne gegee het dat daar nie sprake van ‘n heksejag deur die universiteit op studente is nie. Dreijer was oop en eerlik oor hulle kant van die saak, wat ‘n liefde vir sowel studente as tegnologie weerspiëel het.

Die tweede rede vir my gekrulde mondhoeke was SAFACT se dreigemente, wat onder andere deur hulle kliënte aangedryf is. Die gewone kanonvoer is gebruik: hul kliënte lei massiewe verliese as gevolg van seerowers op die hoë seë en studente landswyd is grotendeels verantwoordelik hiervoor. Dis ‘n klassieke geval van groot maatskappye wat nog steeds nie kon agterkom hoe om digitale media te beheer nie en nou wil blaf sowel as byt. Veral kostelik is hoeveel geld en tyd hierdie maatskappye inspan om polisiemanne aan te stel eerder as om innoverende metodes van geldmaak na te vors.

Beskou byvoorbeeld hierdie aanbod van Wantitall.co.za:

Our Price:
R 416.00
Add To Cart
Add to cart!
Retail Price: R 593.00 You Save: R 177.00 (30%)
Delivery Time: 7 to 15 Working Days
Format: DVD

Vir die prys van tien films wat elkeen op ‘n tamaai skerm geprojekteer word, gekyk word vanuit die gemak van ‘n gestoffeerde stoel in ‘n filmteater met Surround Sound, verwag DVD-maatskappye dat mense een film moet koop wat op ‘n veel kleiner skerm vertoon sal word. Die beeldkwaliteit is outomaties swakker, die klank van ‘n paar luidsprekertjies gerangskik in 7:1 Surround Sound kan nie naastenby al die oorspronklike frekwensies van ‘n filmteater produseer nie en jou rusbank het dalk net al te veel gelëer (en is dalk net belëer met ‘n wraaksugtige afstandbeheerdiktator).

En mense koop dit. Mense is bereid om tien keer meer te betaal om ‘n ou film op ‘n klein skerm met vrotter klank te sien.

Reggeraai: dis waar my frustrasie vandaan kom. Wie in sy regte verstand sal nié op die internet gaan soek vir ‘n film as dit soveel kos om een in die hande te kry nie? Wie in Suid-Afrika, waar die broodlyn ietwat anders lyk as in die Amerika (waar die meeste van hierdie inhoud vervaardig word) kan bekostig om hulself so te vermaak?

Is dit iemand se rég om buitensporig wins te maak?

Kan ‘n mens van filesharing as diefstal praat as die meeste Suid-Afrikaners nie die alternatief kan bekostig nie?

En wat moet ek van hierdie situasie dink as ek in die einste industrie wil gaan werk?

Post to Twitter

16 Responses to “Kopie”

  1. Ek dink die antwoord lê in die woord “filesharing”. ;)
    Dink ook soms die mense oor reageer.

    Reply

  2. Ja, ai, bly maar ‘n netelige kwessie.

    Reply

  3. Die debat kom al van die eerste verskynig van die mp3.

    Die feit bly staan dat vervaardigers nie musiek/films/reekse gaan verkoop terwyl die prys daarvan buitensporig hoog is in vergelyking met die alternatief nie.

    Reply

  4. Johan ek kan met baie wat jy se saamstem. Maar …

    a) Ek sal enige dag eerder op enige van my afgeremde rusbanke wil sit as op die kougombevlekte sitplekke wat mens in meeste film teaters kry. My rusbanke is nogsteeds geriefliker.

    b) As ek ‘n DVD van ‘n film besit kan ek hom 100 keer oor kyk as ek wil. Miskien wil jy elke film net een keer sien, maar miskien is daar tog films wat jy meer kere sal wil sien. Elke keer as jy dit in die teater wil sien moet jy weer betaal daarvoor. En soos jy weet wys hulle nie vir altyd nie.

    c) As meer mense die DVD wettig gaan koop eerder as om dit onwettig te kopieer sal die prys van DVDs wel uiteindelik af kom. Dis ‘n kwessie van vraag en aanbod.

    Ek glo daaraan om die regte ding te doen. As ek ‘n DVD wil he dan koop ek ‘n wettige kopie. So wanneer ek by ‘n DVD winkel instap begin die koopsmense se monde water. Op een dag was ek so swak ;-) gewees dat ek op die einde met oor die R2k se DVDs daar uitstap. Sedertdien probeer ek myself in toom hou. :-)

    Reply

  5. SAFACT se optrede was in swak styl. Daar is geen manier dat koshuis inwoners DSTV of MNET in hulle kamers kan kry nie, dit is onmoontlik. Dus verloor MNET of Multi-choice niks hieruit nie.

    Deur arm studente sonder geld so te target (en ons is sulke maklike targets), het SAFACT my nou oortuig om nie ‘n SENT vir Multi-choice of MNET te betaal wanneer ek eendag ‘n goeie salaris verdien a.g.v. my tersiere opvoeding hier waar hulle ons nou onderdruk nie.

    Jammer MNET/Multi-choice, ek kan julle nou nooit ondersteun nie.

    Reply

  6. Ek wonder nogal of die bekamping van piracy meer sales gaan beteken vir maatskappy en of dit nie dalk ‘n geval is dat mense in elk geval nie die produk sou koop nie.

    flippiefanus – ek kan saamstem met die meeste dinge wat jy sê ;)

    daar is natuurlik baie vanselfsprekende voordele van ‘n dvd, maar vir my kom dit nie naby daai “magical” ervaring wat jy in ‘n teater (film of toneel) kry nie. die punt is juis dat jy moet vergeet van die kougom en jouself oorgee aan die suspension of disbelief. (ek verpes dit as ek in ‘n cinema langs die paadjie moet sit, want dan skyn daar sulke flou liggies die hele fliek lank in my gesig. it breaks the suspension!) om daardie effek in jou huis te verkry, is nie baie moontlik nie.

    granted, jy kan nog steeds die fliek kyk – en dit fast forward en in slomotion speel en pause en die trash gaan uitsit – maar dis juis wat dit soveel anders as ‘n cinematic ervaring maak.

    maar of die pryse gaan afkom as mense baie koop? ek’s nie so seker nie. nie met die mentaliteit wat steeds onder die meeste SA maatskappye heers nie. hulle sal elke stukkie media en tegnologie squeeze vir elke druppel wat hulle kan kry.

    2k?? genade. wat het jy gekoop? :-)

    Reply

  7. Ek glo teaters het nog hulle plek, maar daar is sekere DVD’s wat ek oor en oor sal kyk en definitief self wil besit. Wat my die moer in maak is die pryse wat ons vir die goed moet betaal in Suid-Afrika. Ek is ‘n huge ‘Allo ‘Allo fan, volgens my die beste komediereeks ooit. Reeks 5 is hier op die rakke en die prys is nou omtrent eers af na so R450.00. Ek het gister Reeks 6 en 7 op Amazon bestel, teen R280.00 vir albei. Dit maak net nie sin nie.

    Reply

  8. Flippie, ek is nie so seker oor (c) nie. Die pryse word sentraal vasgestel deur ‘n kartel, wat meestal nie in gedagte hou dat koopkrag in SA baie minder is as in die Weste nie. (Tegnies behoort ‘n groter vraag in elk geval die prys te laat styg, nie daal nie, volgens die klassieke vraag en aanbod reël).

    Die flieks lyk soos hulle lyk, want Ster Kinekor en Nu Metro het die alleenreg om DVDs in te voer, sowel as om flieks in te voer. Raai watter een maak hulle die meeste geld mee? As hulle kon, sou hulle graag teaters wou laat doodgaan en net DVDs verkoop. Baie meer geld daarin, en baie minder onkoste.

    Dit gaan ‘n ruk neem, maar hierdie is maar alles oorgangspyne tot die media maatskappye kan uitfigure hoe om hulle besigheidsmodelle aan te pas.

    Ek weet DC is gerieflik en maklik om te gebruik, maar daar is tog ander meer anonieme manier om files te share. Gaan SAFACT se optrede nie maar net mense na ander oplossings stuur nie?

    Reply

  9. Is die fliek ooit die geld werd??

    Reply

  10. pienk zuit – juis. ek scheme gnutella of iets gaan binnekort oppop.

    Reply

  11. Ja Pienk Zuit, ek dink dis net ‘n kwessie van tyd voordat ‘n plaasvervanger kopuitsteek. DC was net ‘n paar dae af, toe begin mense al mIRC oorstroom om files te stuur en planne te beraam om alternatiewe op te spoor.

    flippiefanus: ek neem aan jy is iemand wat in ‘n beroep staan en ‘n maandelikse inkomste ontvang wat jou toelaat om >R2k se DVD’s op ‘n slag te koop. Vanuit ‘n student se oogpunt (en ek probeer nie heeltemal die onwettige goedpraat nie, but just hear me out) is dit mos ‘n heel ander saak. Ek moet maar mooi die sente omdraai in ‘n maand om uit te kom, en as ek my gunsteling reeks se “DVD Box Set” wil koop, moet ek omtrent 2 maande vooruit budget. Dis nou maar die realiteit. So as ek die keuse het om met die kliek van ‘n muis dieselfde reeks, van dieselfde kwaliteit, op my rekenaar te kan aflaai… sal ek mos nie tweekeer dink nie…

    Maar my eintlike punt is, dat die verspreiders in meeste gevalle nie geld verloor nie. Want die meerderheid studente sou dit in elkgeval nie gekoop het nie. En MNet en Multichoice en DSTV verloor ook nie, want soos iemand hier bo genoem het, sal koshuise net eenvoudig nooit DSTV in elke kamer hê nie.

    En ek maak verseker nie geld uit die storie uit nie. Ek skryf nie DVD’s om teen ‘n vet wins aan my DC-lose vriende te verkoop nie.

    So die lyne bly maar bietjie geblur, as jy my vra…

    Reply

  12. Jinne, niks is darem so lekker soos iets wat verniet is nie… al is dit dan onbewustlike “steel”. SOu julle dan se dat destydse “tape recorders” en die recording van saterdag se coca-cola top fourty liedjies ook as ” die verkeerde ding om te doen” geklassifiseer moet word?

    Vandat DC af is, lees ek meer… boeke en blogs :)

    Reply

  13. Oh, en psi: lekker isidingo en onderbroke “so last season” films is jou voorland. Wat se hulle? cut of your nose to spite your face… :)

    Reply

  14. Toegegee, my kennis van ekonomie is nie my sterkpunt nie. Ek het maar gehoop dat hoe meer mense goed koop word die industrie gestimuleer wat maak dat die goed uiteindelik goedkoper word. Miskien werk dit nie so met DVD’s nie.

    Nogtans, mens kan hierdie kant toe redeneer en mens kan daardie kant toe redeneer, maar om DVD’s of digitale films gratis te kry is teen die wet en bly volgens my eenvoudig verkeerd.

    O en Konfytbekkie, ja natuurlik verdien ek geld as ek soveel geld uitgee op DVDs. Wat wil studente nou in iedergeval maak met DVD’s en flieks? Hulle moet mos sit en swot in die aande :grin: sodat hulle so gou moontlik kan klaarswot en ook kan begin geld verdien sodat hulle DVD’s wettig kan bekostig. ;-)

    Reply

  15. Ek kyk nie ewe skielik TV vandat DC af is nie. Ek eet nou net saans in stilte.

    Reply

  16. Fladder: Of ek kan net my shows van die internet af laai…

    Reply

Leave a Reply

CommentLuv Enabled