500 se dae getel

Ek het iets oor myself ontdek wat my – om die minste te sê – nogal geruk het. Iets so desktruktief dat ek nie weet hoe ek my lewe verder moet lewe nie. Maar 'n mens is nooit te jonk om te leer nie.

Hierdie is my 500ste bloginskrywing, maar dis die eerste geskeduleerde een in sewe en twintig maande. WordPress het 'n skeduleringsfunksie waarvan ek nooit geweet het nie – en pas ontdek het.

Teen die tyd wat jy hierdie woorde lees, behoort ek net klaar te wees met 'n kontaksessie by die Departement, op pad koshuis toe om dubieuse kos en gesellige geselskap te geniet. Ek gaan nie naby my rekenaar kom tot na ete nie, maar deur 'n eenvoudige datum en tyd vir hierdie inskrywing te stel, sal hierdie inskrywing reeds gepubliseer wees.

So eenvoudig, dog so elegant. En ek ontdek dit eers na 500 inskrywings.

Tog vreemd, dag ek toe ek “publish” kliek, hoe 'n mens iets spesiaals wil maak van 'n getal soos 500. Ek het met die idee gespeel om iets besonders van hierdie inskrywing te maak, tot ek skielik besef het 500 is eintlik 'n baie lukrake getal. In binêr is dit 111110100, in heksadesimaal 1f4, in Zim Dollars weinig. My brein wil nie iets spesiaal van 111110100 (of 1f4 of R31.80) maak nie, maar dit bly klou aan 500.

Toe slaan dit my, soos 'n lamppaal 'n lappop: ek is 'n fundamentalis, van kleins af geïndoktrineer om die eeue oue honderdmeem te assimileer. (En jy ook – behalwe as jy heimlik 'n Maja of 'n Babiloniër is. Dan is jou kop om heilige twintigs of sestigs gedraai.) Vir jare was ek oortuig dat daar, tussen al die ander getalle, een belangrike Basisgetal is wat meer spesiaal as al die ander is. Dit terwyl getalle eintlik nie eers empiries waargeneem kan word nie en mense daagliks by die miljoene sterf (en die getalle sit met gevoude hande).

Ek weet nou dat daar geen rasionele rede is om 500 beter as -PI te noem nie. Want nie een van hulle bestaan regtig nie. Ek is 'n wedergestorwe numeraal, my dae gemoeid met vae herinneringe aan die wiskunde wat uit my kop gesyfer het en 'n passie vir die waarheid. Die mensdom moet weet van hierdie nommerbedrog geskoei op drogbeelde.

Getalle se dae is getel!

This entry was posted in Blogging, Godsdiens and tagged , , , , , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>