Joernaliste wat skryf oor iets buite hul ervaringsveld (iets wat nogal gereeld gebeur), is soms te kostelik vir woorde. So kry ek onlangs Die Burger se namiddag nuusbrief wat vertel hoe: “Maties se netwerk DC++ afgesny [is] oor kopiereg“. Wragtig, daar word die situasie weer verkeerd beskryf.
Nes Soen in die Laan se beweerde 7132 bywoners eintlik nader aan 'n duisend studente was (SR-lid Retief Swart het dit later by 'n SR-Koukus erken), so bestaan daar nie iets soos 'n “netwerk DC++” wat afgesny kan word nie. (Ek kan nie help om te wonder of die skrywer van hierdie berig een van die joernaliste by die impromptu IT-vergadering was nie.)
Feitefoute kom in verskeie paragrawe voor. Die eerste paragraaf meen byvoorbeeld:
'n Netwerk wat dit moontlik gemaak het om materiaal van die Internet te bekom wat outeursreg kan skend, is tydelik ontkoppel ná kommer dat die versoeking te groot vir Matie-studente is.
Van meet af is daar onjuiste inligting. Die enigste netwerk wat dit moontlik maak vir studente om materiaal van die internet af te laai, is die Stellenbosch intranet, wat bestaan uit duisende netwerkpunte en talle WiFi hotspots. Dis nie iets wat 'n mens sommer net kan afskakel nie – al wat dit heeltemal kan deaktiveer, is 'n kragonderbreking. Om die netwerk te ontkoppel, moet letterlik elke rekenaar op kampus se netwerkkabels met die hand uitgetrek word.
Wat eintlik gebeur het, is dat 12 hub-eienaars se toegang tot die intranet verbreek is. (Hulle sou heel vrolik nog steeds IP’s kon force en toegang kry tot ander rekenaars in dieselfde gebou as hulle.) Enigiemand wat iets van p2p filesharing en gedesentraliseerde netwerke weet, behoort ook te weet dat hub-eienaars nie 'n netwerk is nie. 'n Persoon kan nie 'n netwerk wees nie. Dis die honderde studente wat hubs gebruik wat 'n netwerk vorm. Nie een van laasgenoemde se netwerktoegang is beperk nie.
“Hubs” wat deel van die Universiteit Stellenbosch (US) se netwerk DC++ vorm, is voorverlede week tydelik afgesny ná 'n oproep van die Suider-Afrikaanse Federasie teen Outeursregdiefstal (Safact).
Die begrip “hub” is 'n baie algemene term. 'n Paar jaar gelede nog het dit in rekenaargeledere verwys na die hardeware wat rekenaars via netwerkkabels aan mekaar verbind. In die konteks van p2p filesharing verwys dit bloot na 'n stuk sagteware wat dien as 'n neksus vir rekenaars wat 'n DC-client hardloop. En weereens: hubs is nie afgesny nie. 12 Studente se netwerktoegang (insluitende hul toegang na e-pos en akademiese dienste) is tydelik kortgeknip. Bowenal: DC++ is 'n p2p filesharing client – 'n stuk sagteware met baie variante, soos ApexDC, RMDC, PhantomDC en dies meer. Daar bestaan nie iets soos 'n “netwerk DC++” nie (dis nie eers 'n grammatikaal korrekte sinsnede nie).
Mnr. Helmi Dreijer, die US se senior direkteur van inligtingstegnologie, sê die elektroniese netwerkgeriewe wat aan studente gebied word, is slegs bedoel om inligting en lêer s te deel. “Ongelukkig bied dit ook die moontlikheid dat materiaal van die internet bekom kan word wat kopiereg kan skend.
Materiaal wat van die internet af kom wat kopiereg kan skend, is inligting en lêers. Mnr Dreijer is buite konteks aangehaal.
Dis frustrerend om koerante te sien wat nie hul inligting verifiëer nie – maar dan weer, 'n joernalis se verifiëring is meestal hoorsê, wat in elk geval nie die beste stawing ter wêreld is nie. En tog glo ons goedsmoeds wat ons soggens in ons RSS-feeds lees, want ons weet nie van beter nie. Ek is taamlik tech-savvy, so ek kan vinnig agterkom as joernaliste snert skryf oor rekenaars. Van iets soos chemie, antropologie of vuurpylwetenskap weet ek egter bloedweinig. As iemand foutiewe joernalistiek in een van daardie areas pleeg, sal ek dit vir soetkoek opeet.
Dit beteken natuurlik dat enige nuusagentskap wat sy sout werd is, behoorlik navorsing moet doen – iets wat ou nuus in die joernalistieke wêreld is.
So hoekom gebeur dit nie hier nie?