“Groen” aksies is nie altyd so groen soos wat hulle met die eerste oogopslag mag voorkom nie. Suid-Afrika se eie “groen” kar – die Joule – is onlangs vrygestel. Dis 'n petrolvrye voertuig wat staatmaak op twee Lithium Ion-batterye om 'n topspoed van ongeveer 130 km/h te bereik. En jy laai hom soos 'n selfoon by jou muurprop. Meen Kobus Meiring, HUB van Optimal Energy:
“Using a normal 220-volt home outlet and Joule’s onboard charger, it will take approximately seven hours to recharge Joule’s battery for a 200km driving range, with two packs providing 400km in total”.
Dit klink natuurlik baie “groen” om geen brandstof te verbrand nie, maar dis nie heeltemal die geval nie. Die elektrisiteit wat nodig is om Joules te laai, moet nog steeds gegenereer word – en in Suid-Afrika beteken dit, met die uitsondering van Koeberg, dat baie steenkool nog steeds verbrand moet word.
Saans het Eskom egter 'n surplus energie, so dis nie asof die laai van duisende Joules skielik koolstofemissies die hoogte in gaan laat skiet nie. As Suid-Afrikaners almal hulle Joules na ure laai, sal dit juis nie 'n impak op die omgewing hê nie, of hoe?
Wel, nee.
Die voertuie moet steeds vervaardig word en dit vereis elektrisiteit in piektyd, sowel as verskeie ander prosesse wat lekker besoedelrig (is daar so 'n woord?) kan raak. Wanneer die voertuie vervaardig is, moet dit met vragmotors na handelaars landswyd vervoer word – groot vragmotors wat baie petrol vereis. En selfs al kan vindingryke ingenieurs hierdie struikelblokke oplos (wat die kwessie in elk geval so half irrelevant sal maak), is daar nog geen waarborg dat Suid-Afrikaners geduldig, gedienstig en gedweë tot laat die aand sal wag om hulle “groen” karre langs hulle selfone in te prop nie.
“Groen” is nie altyd so groen nie.
*edit*Hierdie inskrywing is nie negatief teenoor Joule nie! (Myns insiens is dit 'n briljante idee en 'n goeie treë vorentoe na 'n “groener” toekoms. Tans is dit egter nie 'n ekologiese panasee nie; ek raai dit gaan juis as sodanig bemark word.) Die punt is eerder dat daar dikwels grys areas op 'n groen terrein is. Hierdie inskrywing kon netsowel oor fietse gegaan het.
Hat tip: Flippiefanus*edit*