Die afgelope tyd is ek toegegooi onder merkwerk en presensielyste en sperdatums en allerhande duiwelse dinge. En daar’s so baie waaroor ek nou al wou blog. Veral wou ek graag weer 'n bietjie oor die plaaslike rocktoneel skryf en resensies oor Foto Na Dans se Pantomime op Herwinbare Klanke sowel as Fokofpolisiekar se vertoning by die Klein Libertas-teater skryf. Ek kan egter nie meer veel van laasgenoemde se vertoning onthou nie. (Wenk aan aspirantskrywers: skryf dit neer, anders kan jy maar daarvan vergeet.)
‘n Vlugtige flirtasie met my rekenaar en die blogosfeer die afgelope sewe minute (regtig, ek het tydgehou), het my van 'n LitNetseminaar oor Wopko Jensma tot by Van Coke Kartel se Myspaceprofiel geneem – wat my ore outomaties na hul nuutste treffer “27 Kluisenaar” geneem het.
En good grief, Francois se stem is besig om te gaan.
Ek het Die Bende lanklaas op 'n verhoog gesien (by die KKNK laas, om presies te wees). Toe ek hulle onlangs in Stellenbosch gaan kyk het, kon ek nie anders as om effe teleurgesteld daar weg te ry nie. Nie in die musiek nie – die vertoning was oudergewoonte topklas. Ek was teleurgesteld in Francois van Coke. Aan die einde van die vertoning was dit duidelik dat hy nie meer kon sing nie. Sy stem het plek-plek weggeraak en hy het die gehoor al hoe meer kans gegee om sy woorde te sing – iets waaroor hulle heel ironies gaande was.
As jy altemit 'n aanhanger is, gaan krap rond in jou CD-versameling en luister na “Maak of Braak” – 'n treffer van hul eerste album. Die toonaard is E-majeur – en Francois se stem klink taamlik suiwer. Luister nou na “27 Kluisenaar”. Daar is 'n duidelike rasperkwaliteit in sy stem; dit klink nou asof hy die meeste hoë note moet uitforseer. “27 Kluisenaar” is in C-Majeur. Dis vier halftone laer as “Maak of Braak”.
Dis bedoel om makliker te wees.
Of dit nou met opset so klink of nie – hierdie ou se stem is besig om baie vinnig baie ver agteruit te gaan. Gerugte (die GormenDIzer Media Eenmanskap het sy bronne) het dit juis dat hy maandeliks kortisooninspuitings kry om aan die sing te bly.
En dis gevaarlik.
En dis hartseer.
En dis hoekom ek teleurgesteld was.
En nou wend ek myself weer tot merkwerk.