
Foto: Bernard Bravenboer
Ek kom nounet uit die HB Thom-teater, waar ek Cabaret se openingsaand bygewoon het. Dit het effe wankelrig begin (wat 'n mens seker kan verstaan – dit was die eerste aand), maar vinnig tempo opgetel en geëindig op 'n hoë noot. Marthinus Basson ken sy storie. Van die karakters se Duitse en Amerikaanse aksente was by tye onoortuigend; van die sang was plek-plek flat. Oor die algemeen kon 'n mens egter sien dis 'n produksie waarin daar baie moeite gegaan het. Ek reken ek moet die tweedelaaste vertoning gaan kyk en met hierdie een vergelyk.
Oor die algemeen – knap spel deur die hoofkarakters (veral Emcee – die seremoniemeester), goeie koreografie, funksionele beligting en baie opsigtelike bemarking.
Een ding wat wel gepla het – en dis 'n kwessie wat ek nou al vir 'n hele klompie jare raaksien in toneelstukke wat die dramadepartement lewer – is dat niemand klaarblyklik vir die akteurs gesê het hoe om 'n mikrofoon te hanteer nie. Te veel kere moes die gehoor steurende, skerp geluide hoor wanneer 'n akteur se mikrofoon (dit het teen hulle wang gesit) teen iets bots. In tonele waar karakters mekaar se wange gesoen terwyl hulle gesing het, is die klank skielik deur twee mikrofone opgevang, wat in sarsies oorverdowende geraas geresulteer het. Ook was die klankbalans aan die begin soms steurend. In een toneel was Fräulein Schneider se mikrofoon totaal en al dood, terwyl twee ander karakters s’n heel beierend aan was. In 'n ander het Emcee saam met twee ander karakters gesing – hulle mikrofone was heeltemal te hard en syne heeltemal te sag.
Hierdie kwessie tersyde was dit 'n uiters genotvolle kykervaring. As jy op Stellenbosch kan uitkom binne die volgende paar dae, probeer om dit te gaan kyk. Jy sal nie spyt wees nie.