Die begrip “hel” (soos wat dit gereeld nog deur die kerk gebruik word) het sy trefkrag so effens verloor, het dit nie?
Toe dit ongeveer tweeduisend jaar gelede opgeteken is, het dit telkemale verwys na Gehenna – 'n brandende ashoop buite Jerusalem waar die samelewing se rommel sonder einde gebrand het. Wanneer Jesus die woord gebruik het, het hy na alle waarskynlikheid nie na 'n letterlike swaelhel à la Paulus verwys waar mense werklik op hul tande kners nie. Tog het mense se verbeeldings maar 'n manier om oor te neem (dink aan Dante se al te fisiese illustrasies van die hemel en die hel asof dit aparte, veelvlakkige “stede” is) en heel gereeld word die hel aan kerkgangers voorgehou as 'n groot poel vuur.
Big deal.
Intussen het ons die Holocaust gehad waar Jode in hul miljoene verbrand is in oonde. Tewens: ons het die tweede wêreldoorlog gevoer, wat gelei het tot die ontwerp van kernwapens wat miljoene mense in 'n oogwink kan verbrand. Daarna het ons vlamwerpers en ander vuurwarm vermaak a la napalm in Vietnam gaan staan en vuur en vandag sit verskeie wêreldmoondhede met hulle vingers op vlambare knoppies. En dan is daar die ontdekking dat elke liewe sterretjie wat saans flikker, eintlik 'n kolossale, brandende gasmassa is.
Om in 'n vuurpoel te val, klink skielik net nie meer so indrukwekkend nie.