Lank gelede, in 'n groen, geil woud, het daar 'n oulike wit hasie gewoon. Haar naam was Kapok. Kapok het twee blink, swart ore gehad. Sy het by haar broer, Kapoefter, en haar ouma, ouma Fnol, gewoon. Ouma Fnol was 'n knopperige ou konyn, wat aan niks anders as koolsop kon dink nie.
Kapok en Kapoefter het elke middag met Petronella gaan speel. Petronella was 'n vriendelike koringkorrel wat, soos die meeste koringkorrels, nie eintlik êrens heen kon gaan nie. Haar gunsteling speletjie was: “steek die boontjieland aan die brand”, maar omdat sy nêrens kon gaan nie en 'n koringkorrel nie vuurhoutjies kan gebruik nie, moes Kapoefter gewoonlik maak asof hy 'n verkoolde boontjie is.
Eendag, nadat Kapok haar koolsop stilletjies in Kapoefter se bord gegooi het, het sy op haar eie na Petronella gegaan. Op pad daarheen ontmoet sy toe 'n nare skilpad met 'n litteken op sy neus. “Wie is oom?” wou sy beleefd weet. Die skilpad het lank na haar gekyk en toe hard gegrom : “My naam is Frikkie. Frikkie die vreeslose bandiet!”
Kapok was stomgeslaan.
“Wat is 'n bandiet, oom?”
“'n Bandiet is iemand wat hase se kele wreed afsny met 'n baie stomp mes en dan al hulle geld vat,” het Frikkie gegrinnik. Voordat jy “mes” kon sê, het hy 'n lang, stomp mes met 'n gebreekte hef uitgepluk.
As hase kon gil, sou Kapok 'n hele paar dinge flenters gegil het. Hulle kan egter nie, dus het sy maar reguit na Petronella gehardloop – en aangesien skilpaaie nie baie vinnig kan hardloop nie, het Frikkie sommer agter haar aangevlieg. (Hy kan, dis 'n feëverhaal en ek kan nie aan enigiets beter dink nie.) Daar aangekom het Kapok naarstig om hulp geroep. Petronella was ongelukkig besig met 'n middagslapie en voordat sy behoorlik kon wakker raak, het Frikkie haar sommer met die mes bewusteloos gemoker.
Kapok het in trane na haar ouma se huisie gevlug, waar sy kliphard teen die deur gehamer het totdat sy dit afgebreek het. Sy het nog skaars vir haar ouma verduidelik hoekom sy 'n deur afgeslaan het, toe Frikkie sommer regdeur 'n ruit bars.
Frikkie het sy mes uitgepluk en dit dreigend voor Kapok se neus rondgeswaai. “Doen net wat ek sê,” het hy gegrom, “anders sny ek hierdie wit konyn se keel morsaf.”
Terwyl Frikkie al sy behoeftes aan ouma Fnol bekendgemaak het, het Kapoefter een van sy ouma se groot potte vol koolsop gesien. Hy was maar 'n eenvoudige hasie, maar na 'n tydjie het 'n idee in sy kop gevorm: hy kon die pot kokende sop mos op die bandiet uitgooi!
Frikkie het liederlik verbrand. Kapok en ouma Fnol ook. Kapoefter het so groot geskrik dat hy ook in die kokende sop beland het. Almal het verskriklike brandwonde opgedoen en niemand het dáárdie aand koolsop geëet nie.