Og, maar ons kan soms so opgesweep raak in politieke retoriek, kan ons nie?
Obama het die Amerikaanse presidensiële verkiesing oortuigend gewen en al wat 'n koerant is, basuin nou uit hoe verandering na Amerika gekom het – hoe dit die simboliese afsluiting van 'n era is wat sedert die sestigs hoogty gevier (en later begin vrot) het en alles skielik net “beter” is.
Die logiese stellasie waarop hierdie aannames in talle mense se koppe staan (kom ons noem dit 'n sillogisme) lyk na alle waarskynlikheid so:
1. Amerika onder Bush het erg begin suig.
2. Obama is anders as Bush – hy behoort nie eers aan dieselfde party as Bush nie.
3. Amerika onder Obama sal daarom beter™ wees.
So 'n sillogisme neem outomaties aan enige verandering is noodwendig 'n goeie ding – terwyl verandering tog altyd ook sleg kan wees. Amerika kan van sleg na beter gaan, maar dit kan ook van sleg na slegter gaan.
Obama is meer as bevoeg om president te wees, maar miskien moet ons die man eers kans gee om sy staal vir die wêreld te wys. Dit help nie om vroegtydig op 'n lawaaiwa te spring nie.