Twee vinnige taallessies, ter algehele verbetering van jou lewe™:
1. 'n Mens spel “vanaand” met een “n”. “Vannaand” is nie 'n geldige Afrikaanse woord nie. Kurt Darren sing immers: “vanaand sien ek my kinders in jou oë”.
Die eerste vokaal van “vanaand” dra nie die hoofklem nie, dus word die “n” nie verdubbel nie. 'n Ekstra konsonant gaan die aand nie langer maak nie.
2. Dinge werk nie op “die ou ent” uit nie, maar eerder op “die ou end”. Kurt Darren het immers op die ou end ryk geraak al het hy alleen-leen-leen deur die storms gestap.
Die slotklanke van “ent” en “end” klink dieselfde, maar omdat die uitdrukking “op die ou end” heimlik afkomstig is van “op die ou einde” en “end” en “einde” vormlik verwant is, spel ons “end” met 'n “d” eerder as 'n “t”.
Assimileer hierdie wenke soos die Afrikaanse publiek Kurt Darren-treffers verslind. Jy sal nie spyt wees nie.