Hoekom? (1 van n)

Die mensdom is 'n vreemde spesie.

Derik van Heerden, 'n 4-jarige seuntjie, het homself te pletter gery met 'n Quad bike. Hy het in 'n muur vasgejaag (teen wat sy ouers vermoed die voertuigie se topspoed is), sy skedel versplinter en al die bene in sy gesig gebreek. Dit was 'n ongeluk. Interessant is hierdie woorde van sy pa, à la News24:

“Whereas we have received more than 200 SMSes and calls from people who say they are praying for us, there are some who blame us.

“This morning someone said they had no sympathy for me and people should not pray for my child. They said people like me were shit,” Van Heerden said.

‘n Mens kan nie help om te dink: “ja, maar wat het jy nou eintlik verwag – moenie nou gaan staan en huil daaroor” nie. Tog is dit baie maklik om dit anoniem of agter die Van Heerden’s se rug vir mekaar te sê. Om dit voor hulle te uiter, sal baie moeiliker wees. Agteraf eerlik wees is maklik, want jy hoef nie in twee gebroke ouers se gesigte vas te kyk terwyl jy dit doen nie.

Dis eintlik maar sinneloos om iemand te verwyt vir 'n ongeluk, is dit nie? Niemand in sy nugtere verstand probeer sy of haar kinders seermaak nie. Maar mense soek verklarings. Ons is teleologiese (not to be confused with “teologiese”) masjiene wat wil weet hoekom dinge met ons gebeur. Ons speur altyd oorsaak en gevolg na – daarom sal blaam (en verheerliking) altyd uitgedeel word.

Die ding is, ons wil altyd weet hoekom. Niemand kon “hoekom” nog beantwoord nie. Uit wetenskaplike ondersoek blyk dit dat alles wat ons waarneem (onsself inkluis) die gevolg van uiters lukrake prosesse is. Dit is na alle waarskynlikheid waar, maar dis iets wat min mense sommer net so sal aanvaar. We’re just not wired that way.

Dis hoekom ons so 'n vreemde spesie is. Nie omdat ons oorlog maak nie – miere doen dit ook. Ook nie omdat ons seks het vir plesier én ander spesies doodmaak vir ander redes behalwe oorlewing nie; dit doen dolfyne. Ons is anders omdat ons redes soek. Ons wil nie net eet, paar en slaap nie, ons wil filosofeer oor kos, baklei oor seksualiteit en dig oor slaap. As ons na die sterre kyk, wonder ons hoekom hulle daar is. As ons seuntjies met quad bikes in mure vasjaag, wil ons weet hoekom Iemand dit toegelaat het.

Meermale het niemand dit toegelaat nie, maar het dit eerder bloot gebeur. 'n Seuntjie het 'n muur teen 'n sekere snelheid getref en Newton het die res gedoen. Dis die sobere, wetenskaplike antwoord – maar dit is nie genoeg nie, is dit? Al verander die mensdom oornag almal in nihiliste, gaan ons nog steeds instinktief ons hande ná 'n tragedie in die lug gooi en ten hemele skrou om 'n rede.

Hoekom?

Ek weet nie hoekom nie.

This entry was posted in Mymering and tagged , , , , , , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>