Ek wil net sê (dat charismatiese gebede ornamenteel kan raak)

Woorde is soos goedkoop batterye. Gebruik 'n mens dit te veel, verloor hulle krag (trefkrag, in hierdie geval). 'n Goeie voorbeeld hiervan is vloekwoorde: hoe gereelder iemand vloek, hoe minder trefkrag het die vloekwoorde. Dis 'n algemene fout wat talle Afrikanerseuns begaan wanneer hulle rockgroepe stig en dan die woorde “befok” en “fokken cool” met elke tweede werkwoordstuk vervleg: die woorde verloor trefkrag. Om goed te swets is om min te swets.

Insgelyks is daar 'n fenomeen by charismatiese kerkgroepe om, met 'n groot skoot Amerikaanse pentakostalisme, die bywoord “net” vreeslik baie te herhaal, soos byvoorbeeld:

…Hemelse Vader, ons wil net vandag voor u kom staan en net, ag, liewe Vader, net vir U kom sê, Here, dat U…ag, Here, net vir ons wonderlik is, Vader…en ons wil net vir U vra dat U net sal…ag, Here net

Die Engelse ekwivalent hiervan is natuurlik “just” – soos in die geval van: “Dear Lord, we just come to You today and we just ask Lord that you…”

Sulke gebede is ietwat van 'n semantiese nagmerrie, aangesien dit 'n woord soveel keer herhaal dat laasgenoemde se betekenis so te sê verdwyn en dit 'n blote klank, 'n ornamentele geluid, word. Die sinne verloor hul trefkrag en die gebed raak blasé, uitgedien. (As ek 'n liturg was, sou ek net mooi die teenoorgestelde van my woorde gesoek het.) Die ironie is natuurlik dat die oorspronklike betekenis van die woord van so 'n aard is dat dit juis nie meer as een keer gebruik moet word nie. Om “net” iets te doen, is om alleenlik iets te doen – daar is net een iets wat gedoen kan word. Om “net” voor die Here te wil staan en dan in dieselfde asem “net” iets te wil kom sê en kort daarna ook “net” 'n religieuse beskrywing kwyt te wil raak, is onlogies. Jy kan nie “net” iets wil doen en dan in dieselfde asem sommer 10 ander dinge ook wil aanvang nie. Dan moes jy nooit “net” gebruik het nie.

Is charismatiese gebede soos goedkoop batterye? Ek reken darem nie so nie. Dis ook nie noodwendig 'n slegte ding om “ornamentele” taalgebruik te besig nie – as iemand sin en betekenis daarin kan vind, dan het dit op 'n manier tog 'n doel gedien. Of daar egter 'n verskil is tussen laasgenoemde se semantiese potensiaal en dié van 'n Afrikaanse sokkietreffer soos Juanita se “Patayo”, is 'n vraag wat interessante antwoorde kan oplewer.

Dit kan almal (insluitende myself) in elk geval baat om van tyd tot tyd na te gaan of hulle wel sin praat – wat hulle konteks ook al mag wees. Een van die groot klowe in godsdienstige debatte is juis dat deelnemers dink hulle praat sommer Groot Sin™, terwyl hulle in werklikheid vir mekaar soos Grieke vir Gondwanalanders klink.
This entry was posted in Godsdiens, Taal and tagged , , , , , , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>