Wanneer kreasioniste rugby met rakette speel

Van die terme wat uit kreasionisme spruit, is vir my besonder vreemd. Ek lees byvoorbeeld onlangs hierdie brokkie teks op Kobus Grobler se tuisblad:

…Richard Dawkins, wêreldbekende bioloog, ateïs en evolusionis

Vreemd, nè? Evolusionis. Herkou daaraan vir 'n oomblik; speel daarmee soos jy sou met kruim in jou mond. Iets skort. Om agter te kom wat dit is, doen dit ook met hierdie terme:

Gravitis

Viskositis

Entropis

Osmosis

Moedertaalsprekers sal heimlik aanvoel dat iets fout is met laasgenoemde, want dis ongewoon om woorde op hierdie manier uit natuurwette of -verskynsels te munt. Kreasioniste het telkens nie 'n geveg met swaartekrag (al het Jesus volgens oorlewering op 'n wolk gestaan), oppervlakspanning en viskositeit (al het Jesus volgens oorlewering op water geloop), entropie of osmose nie. Evolusie het vir hulle egter genoeg meriete om hierdie buitengewone grammatikale funksie te vervul. Ek vind dit vreemd.

‘n Ander aardigheid is hierdie een, ook van Grobler se webtuiste:

..is die leer van evolusie 'n uiters goed georkestreerde leuen om die mensdom op 'n dwaalspoor te lei?

Toe ek vanjaar saam met Atlete vir Christus op een van talle klein dorpies (ek gaan nie skryf watter een nie) oornag het, was dit by 'n baie konserwatiewe, rassistiese oom en tante (wat my en my vriend natuurlik gasvry onthaal het, omdat ons wit en gereformeerd was). Jy mag wegbreek en 'n nuwe kerk stig, het hulle ons toe mooi touwys probeer maak, solank jy net die Ware Leer aanhang. Solank jou Leer suiwer is, sal jou knoop deurgehaak bly. (Ek het aan Straatligkinders se liriek: “wil jy reg of gelukkig wees” gedink, my smoel gehou en vriendelik geglimlag.)

Die bejaarde paartjie het daardie aand religieuse taalgebruik gebesig. Om sodanige begrippe egter binne 'n wetenskaplike konteks te gebruik, is soos om rugby te probeer speel aan die hand van tennisreëls. Dis presies wat kreasioniste doen wanneer hulle van die leuen van “die evolusieleer” praat – hulle forseer godsdiens, 'n manier om sin te probeer maak van die vreemdheid van ons bestaan, binne-in die wetenskap, 'n manier om te probeer verstaan hoe die vreemdheid waarbinne ons bestaan, funksioneer. So ontstaan misverstande, begin mense baklei, word hulle van mekaar vervreem.

‘n Mens hoor toenemend van die “tiranny of belief” – die idee dat spesifieke oortuiginge verantwoordelik is vir Ander se uitsluiting en onderdrukking. Daar is ongetwyfeld waarheid hierin (dink byvoorbeeld aan die gure vete tussen die NG-Kerk Moreleta Park en hul orrelis, gebaseer op niks meer as 'n geloofsverskil nie). Iemand soos Dawkins se oplossing hiervoor is eenvoudig dat alle godsdienstige aktiwiteite stelselmatig uitgeroei moet word – sodoende, meen hy en kie, sal die wêreld 'n beter plek wees. Ook Dawkins het 'n element van waarheid beet, maar hy raak self so fundamentalisties oor wat hy glo dat hy net mooi die omgekeerde van kreasioniste se skewe rubywedstryde aanvang.

Wat is die oplossing vir hierdie nimmereindige pseudodebat? Slegs dít: om nie rugby met rakette te speel nie.

This entry was posted in Godsdiens, Taal and tagged , , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>