‘n Effektiewe manier om besoekers na jou blog te dryf, is om die krag van die lang stert te gebruik. Dit het weinig met 'n sangôma se moetie (of die gereg se lang arm) te doen, maar eerder met die slim gebruik van 'n fenomeen wat bekendstaan as “the long tail“. Hoewel nie uitsluitlik die gebied van internetgebruikers nie, vind dit vandag veral neerslag op die wêreldwye web, waar maatskappye duisende rande (ja, dit gebeur reeds ook in Suid-Afrika) betaal om verkeer na spesifieke webtuistes te dryf en hul korporatiewe beeld positief uit te bou.
Klink dit na Grieks? Lees verder.
In elke nis van die blogosfeer is daar 'n paar gewilde blogs en talle onbekendes. Ook in ons Afrikaanse hoekie geld hierdie reël: almal weet van Steve Hofmeyr se (nou vervalle) blog, almal ken die manne van Bosparra, talle weet van Frank Botha en Die Werf. Hierdie kêrels kry veel meer trefslae as Jan Rap en sy maat wat so af en toe 'n emotiewe getier of 'n aangestuurde kettingbrief plaas. 'n Paar blogs kry die meeste hits; die oorgrote meerderheid het elk 'n skamele groepie volgelinge met die daarmee gepaardgaande skamele besoekerstal. Dis niks uniek aan die blogosfeer nie – die hele internet werk so. Almal weet van Amazon.com; min mense weet van Kosie April se spoorwegverhale uit Beaufort-Wes.
‘n Mens sou dit grafies as volg kon voorstel:
Aldus: die lang stert. Die “duisende klein sites” kan maar net daarvan droom om soveel verkeer as die ouens aan die bokant te kry. Die hoeveelheid krag in eersgenoemde is egter van onskatbare waarde. Die rede hiervoor is eenvoudig – almal in die lang stert besoek gereeld die ouens aan die bokant se webtuistes. Die boonste ouens is bo omdat die onderste ouens hulle daar hou. Getalle – hierin lê die krag van die lang stert. (Dis soos om te stem in 'n nasionale verkiesing: op jou eie gaan jy om die dood nie 'n verskil maak nie, as deel van 'n leërskare wel.)
Ek het dit eerstehands ervaar met die “bemarking” vir die eerste Silwer Ponie, toe ek by elke liewe blog waarop ek my hande kon kry kommentaar gelewer het. Ek het besoek by 'n sekere blogger met 'n baie lang blogroll afgelê, 'n draai by elke blog daarop gaan maak en eenvoudige kommentaar gelos wat die betrokke blogger gelukwens het omdat hy of sy “die Silwer Ponie gewen het”. Van die blogs het ek nog nie vantevore met 'n oog gesien nie. Desnieteenstaande het my “bemarking” soos 'n bom gewerk – my trefslae vir die dag was meer as drie keer my weeklikse gemiddeld. Die obskure kommentaar het mense nuuskierig gemaak; toe hulle by my blog aangekom het, was daar reeds relevante inhoud in plek om hulle vir 'n wyle hier te hou.
Wat beteken dit alles?
Dit beteken jy is na alle waarskynlikheid deel van 'n baie kragtige ketting waarvan die krag juis nié deur die swakste skakel bepaal word nie. Inteendeel. Die krag van die ketting lê juis daarin dat dit uitsluitlik uit “swakker” skakels bestaan. Dit beteken ook dat jy, met die regte virale inhoud, veel meer in die kuberruimte kan uitrig as wat jy dalk besef.
Ons ken nie ons eie krag nie. Hierin lê ons krag.

