
waaaaaaant! jy! soen! my! nie! meeeeer! nieeee!
Lianie May, die sangeres bekend vir die treffer: “Jy soen my nie meer nie”, het na bewering verlede Sondag tydens 'n Kerskonsert knertsdronk (ek het lank en diep hieroor gedink, en uit die ganse Afrikaanse leksikon is dit die beste woord) op 'n verhoog by 'n Kerskonsert verskyn, vals gesing en onsamehangend gebabbel. Só erg was haar vertoning dat bykans 800 toeskouers dit vroeg verlaat het.
Dis 'n netjiese illustrasie van hoe relatief moraliteit soms kan wees.
As dit Fokofpolisiekar of Ef-El was wat so opgetree het, sou hul aanhangers nie juis omgegee het nie. Dis deel van die vertoning. Braak 'n bietjie hier, vloek 'n bietjie daar – niemand (behalwe dalk Allan Boesak of Oudtshoorn se kerkleiers) gaan hulle kruisig nie. Laat May egter net 'n voet skeef sit in 'n dubbele ry spore en haar aanhangers loop teleurgesteld weg. Waar Fokofpolisiekar se aanhangers aan die einde onder mekaar sal koer oor hoe “befok” die vertoning was, sal May s’n brommend verdwyn en binnensmonds (want dis ongeskik om dit hardop te uiter) mor oor hoe dronk sy was. Ironies genoeg sal sommige van hierdie ontstigte gehoorlede “erger” dinge aanvang by 'n naweekbraai en dit dan 'n “lekker kuier” noem.
Dieselfde alkohol, verskillende uitkomste.
Wat is dit wat maak dat May preuts moet wees, maar Fokofpolisiekar nie?