Lank gelede, toe 5¼ duim-floppy drives die apogee van bergingstegnologie was, het my wyse vader 'n supervinnige 80286 aangeskaf wat, onder andere, 'n hardeskyf met die verbluffende stoorkapasiteit van 20 MB had. Nimmer as te nooit, het die verkoopsman gesê, sal meneer hom volkry nie. Nimmer as te nooit nie. Dis oorgenoeg.
Hy was verkeerd. 20 MB het spoedig te min geraak – en dit het nie juis gehelp dat 'n vierjarige ventjie ontdek het hoe om speletjies langs sy pa se snelgroeiende versameling dokumente te laai nie.
Gister moes daai ventjie opnuut besef hoe niksseggend die term “oorgenoeg” kan wees. Sy bandwydte het opgeraak:

Duitsland, hier kom ons.