Google soos 'n dier. Verslind elke resensie, deurkruis elke forum; leer ken die relevante terme en maak seker die verkoopsman gaan jou nie oorrompel met nuttelose statistieke nie. Ken die verskil tussen dinamiese en statiese contrast ratios, begryp die term “dot pitch”, maak seker jy weet oor die algemeen hoe 'n LCD-skerm werk en wat “native resolution” beteken, besluit of jy 'n glossy of matte panel soek, of die skerm in portrait mode kan draai, of jou videokaart die native resolution daarvan support etcetera. Kry die kennis. Assimileer die kennis. Wees die kennis.
Vergeet dan alles wat jy gelees het.
Gaan na 'n rekenaarwinkel met 'n wye verskeidenheid skerms en speel met soveel as moontlik van hulle. Indien dit kan, swivel, tilt, pivot en heighten elkeen en besluit of jy van die meganisme hou. Besluit of jy van die knoppies se ligging op die skerm hou. As die skerms op Windows-rekenaars gedemo word (die kans hiervan is natuurlik baie groot), maak MSPaint oop, stel die image size dieselfde as die skerm se native resolution (as jy byvoorbeeld na 'n 24 duim-skerm kyk, skep 'n 1920×1200 image), kies 'n helder kleur en vul die hele canvas daarmee. Bekyk die skerm van verskillende hoeke – is die viewing angle wat geadverteer word werklik so groot? Is die enkele kleur waarmee jy die canvas gevul het uniform oor die hele panel, of verskil dit plek-plek? Is die beeld skerp? Is dit dof? Word daar sagteware saam met die skerm verpak om laasgenoemde te verander?
In 'n neutedop: neem alles wat jy op die internet lees met 'n berg sout op. Baie resensies (al lyk dit hoe betroubaar) word deur skermvervaardigers gekoop; talle karakters wat monitors se lof in forums besing, is heimlik werknemers van die vervaardigers. Maak staat op die internet vir tegniese kennis, maar gebruik jou oë (en jou hande) om te besluit of iets die moeite werd is. Dis immers hulle wat na die ding gaan moet staar.

Ek het vandag uiteindelik 'n Samsung 2493HM gekoop. Dit het skaflike beeldkwaliteit, baie goeie viewing angles (wat skaars is op TN-panels), donker swart en nagenoeg geen backlight bleed nie. Laasgenoemde was die deurslaggewende faktor in 'n besluit tussen die 2493HM en 'n onnodige duur HP W2408H, wat vieslike backlight bleed aan die regterkantste sy van die panel gehad het. My enigste frustrasie met die skerm is dat dit geadverteer word met 'n ingeboude USB hub, maar dat sekere lande (Suid-Afrika inkluis) modelle daarsonder kry. Myne is nie 'n uitsondering nie. Desnieteenstaande was dit 'n goeie kopie – om nou video en audio editing te doen met my Core 2 Quad, is 'n droom. Moet egter nie my woord daarvoor neem nie – gaan vort en ontdek self waarvan jy hou.