
"lollercaust!"
Ek dink nou al lank oor Breyten Breytenbach se versoek aan jong Suid-Afrikaners om die land te verlaat terwyl hulle nog kan. Ek het in my lewe nog nie so 'n absurde versoek gehoor nie. Wie gaan agterbly om in 2010 vir uitlanders te glimlag? My ouma?
Vlieg in jou moer, Breyten, wil ek vir hom sê. Dan onthou ek hoeveel respek ek vir hom gekry het terwyl ek sy lewe en poësie op universiteit bestudeer het.
Vlieg in jou moer, Breyten, wil ek skree, maar dan besef ek dis amper soos om dit vir Nelson Mandela te skree.
Vlieg in jou moer, wil ek skryf en dan skaam my pen neersit, want hy skryf beter.
Tog, al spartel 'n letterkundestudentjie se ontsag vir onse poesmodernis(sic) hoe hard in my harsings rond, kan ek nie help om te voel dit moet steeds gesê word nie. Met respek, natuurlik.
So.
Breyten.
Vlieg in jou moer.
Ek bly net hier.