Nou die aand slier ek na die yskas in 'n verlofluim, skep jogurt (vetvry) in 'n bakkie en beweeg lui-lui kamer toe om die sewende Silwer Ponie op te neem, toe ek skielik onthou dat ek 'n nood het. 'n Grote. Ek draai toe maar by die badkamer in, plaas die bakkie jogurt op die toiletbak, urineer driftig (nie in die bakkie nie) en slenter verder in die gang af. (Manskoshuise leer jou wonderlike dinge.)
Jogurt. Toiletbak. Piepie. Sonder om twee keer daaroor te dink.
Almal doen dit. Jy ook. Ek is seker jy het onlangs iets gedoen waarvan jy weer vergeet het. Dalk het jy 'n deur toegemaak. 'n Sambreel bo jou kop teen die Kaapse reën gelig. Brood gesmeer. Die toilet getrek. In jou neus gekrap. Dit was nie noemenswaardig nie en jy gaan dit na alle waarskynlikheid nie eendag vir jou kleinkinders vertel nie, nes dit vir my niks beteken het om 'n bakkie jogurt op 'n toiletbak te sit nie.
Hoekom nie?
Hoekom is die jogurt op ons toiletbakke nie vir ons spesiaal nie? Omdat ons nie so besluit nie? Moontlik. Maar hoekom is iets soos Kersfees dan vir soveel van ons spesiaal? Daarop besluit ons ook nie. Ek ken niemand wat eers in die spieël kyk, 'n daadwerklike besluit neem om 'n kontrak daaroor met hulself te sluit en dan met 'n vuurpeloton aankondig dat die 25ste Desember amptelik vir hulle magies en betekenisvol sal wees nie.
Dit gebeur net.
Indien dinge wat vir ons spesiaal is dus nie ons keuse was nie en dinge wat nie spesiaal is nie ook nie, hoe raak oomblikke of dinge vir ons betekenisvol?
Is al ons geluk per ongeluk?