Kan ontbytvlokkies ‘n maanreis wees?

Die evolusie-kreasionisme pseudodebat is al keer op keer op die blogosfeer uit die kas gehaal, afgestof en van meet af vervat. Ek self blog nie graag meer daaroor nie, aangesien gesprekke gewoonlik 'n baie spesifieke rigting inslaan. Hierdie inskrywing is 'n reaksie op Retha se vraag: “Kan evolusie God onnodig maak?”. Ek wil nie hiermee van vooraf in die debat spring nie. Veeleer voel ek ek het 'n bydrae om te maak tot 'n vraag wat onnodig onmin kan saai deur bloot 'n bietjie begripsverheldering toe te pas. Slaan hierdie een oor as jy sat is vir hierdie onderwerp. (Of lees verder. Ek weet jy wil eintlik.)

Dis 2009. Darwin-jaar. 'n Mens sou hoop die mensdom begryp die proses van evolusie teen hierdie tyd al goed, maar die teendeel blyk ongelukkig waar te wees. Reg oor die planeet is mense besig om die teorie te bevraagteken veral op grond van godsdienstige redes. Wetenskaplikes het lankal aanvaar dat die aarde se diverse biosfeer ontwikkel het uit die tydsame proses van natuurlike seleksie, maar vir talle wat nie voltyds bemoeid is met proefbuise en mikroskope nie, is evolusie skynbaar 'n leuen. En sommer 'n grote daarby.

Hierdie mense (daar is baie van hulle) gebruik die begrip “evolusie” anders as wetenskaplikes. Vir wetenskaplikes verwys die begrip na 'n biologiese proses – iets wat met organiese lewe te doen het. Vir hul teenstaanders is dit egter veel meer. By hulle is dit nie net 'n proses nie, maar 'n totale wêreldbeskouing, dikwels heg vervleg met ateïsme. Hulle gebruik “evolusie” as 'n oorkoepelende term wat min om meer beteken: “alle teorieë wat probeer verklaar hoe die heelal en alles daarin ontstaan het wat God uit die prentjie sluit”.

‘n Mondvol, nè?

Só vra Retha (wie ek geensins oor enigiemand se kam skeer nie) die volgende vraag oor die onderskeid tussen abiogenese en evolusie:

Die onderskeid klink vir my bra kunsmatig. Is dit naaldwerk om jou skêr uit te haal, lap uit te soek, garing te koop of jou omkapmasjien te bedraad?

Die antwoord op hierdie vraag is sekerlik (sy gee dit ook deels te kenne): nee. Nes die bou van 'n vuurpyl nie 'n maanreis is of die verpakking van graanvlokkies 'n ontbyt is nie, so is die ontstaan van lewe uit nie-organiese materiaal nie die ontwikkeling van organiese lewe uit organiese lewe nie. Om 'n lanseerplatform te bou of 'n kartondoos te seël, is natuurlik deel van 'n proses wat uiteindelik kulmineer in 'n maanreis of 'n ontbyt, maar dit beteken nie die twee (of dan, vier) is dieselfde nie.

Die werklikheid is dat daar lang kettings van oorsaaklikheid is waarvan lanseerplatforms en kartondose maar slegs aparte stadia is. Wat Retha (en ander) doen, is om willens en wetens (of dalk onwetend) te besluit om 'n sekere aantal skakels uit die ketting te knip en dan daaroor te redeneer asof die skakels die hele ketting is. Retha se standpunt is nie 'n swak een nie – evolusie blyk in talle studies abiogenese te voorveronderstel. Ateïste (wie sy hoofsaaklik in haar skrywes aanspreek) doen dit ook oor die algemeen. Die probleem is dat abiogenese (indien dit gebeur het) nie die “begin” was nie en evolusie na alle waarskynlikheid nie die einde nie.

Wie het besluit die maanlanding is die finale skakel in die ketting en die bou van die ruimteskip eerste? Is dit dan nie vanselfsprekend dat die bou voorafgegaan is deur 'n ontwerp nie, wat om die beurt voorafgegaan is deur 'n opdrag, wat voorafgegaan is deur die suksesvolle resultate van vorige lanserings, wat voorafgegaan is deur… [voeg skynbaar oneindige ketting van gebeure hier]…’n klomp Europeërs wat eeue gelede na die Amerikas gevaar het nie? En dit wat voor dit gebeur het? En voor dit? En dit?

Retha se vraag voorveronderstel die retoriek dat evolusie 'n plaasvervanger vir God is – 'n retoriek waarin abiogenese met die skeppingsdaad as “begin” omgeruil word. Om dit egter as 'n vertrekpunt te beskou, is om jouself te kul. Selfs al het abiogenese plaasgevind alvorens natuurlike seleksie sy gang begin gaan het, was dit nie die begin nie. Eers was daar, volgens ons huidige kennis, die gewelddadige vorming en afkoeling van die aarde, wat voorafgegaan is deur sterre wat basismateriaal uitgespoeg het, wat voorafgegaan is deur sterre wat begin brand het, wat voorafgegaan is deur… [voeg skynbaar oneindige ketting van gebeure hier] …die geheimsinnige oerknal.

Om die begrip “evolusie” te gebruik om na hierdie amper onmeetbare ketting te verwys, is eenvoudig om die begrip te verkrag. Dis nagenoeg soos om alles van die Amerikaanse burgeroorlog tot president Nixon se gunsteling ontbytvlokkies 'n “Maanreis” te noem. Wanneer Retha dus ten slotte ook die volgende skryf:

Evolusie, reg of verkeerd, verklaar nie:

  • Hoekom daar hoegenaamd 'n heelal is nie. Waarom bestaan iets in plaas van niks?
  • Hoe dit is dat die syfers so presies reg vir lewe is. Die kanse daarvoor is klaarblyklik kleiner as 1/1-met-120-nulle(1)
  • Hoe daardie eerste lewe hoegenaamd ontstaan het nie.(2)

Beantwoord sy op 'n ironiese wyse haar eie vrae. Evolusie verklaar nie hoekom daar 'n heelal is nie: dit verklaar die biologiese ontwikkeling van lewe uit lewe. Dit verklaar nie hoekom die aarde in die sogenaamde “Gouelokkie-sone” is nie: dit verklaar die biologiese ontwikkeling van lewe uit lewe. Dit verklaar nie hoe die eerste lewe hoegenaamd ontstaan het nie: dit verklaar die biologiese ontwikkeling van lewe uit lewe.

Die vraag of evolusie God onnodig maak, is 'n foutiewe vraag.

‘n Beroep, daarom, op almal wat ooit hier gaan lees en (veral) almal wat in die toekoms daaroor gaan blog: hou asseblief op om evolusie te demoniseer. Dit het jou geen skade gemaak nie, so moet asseblief nie op jou trekker klim en al sy kragpale gaan omry nie. So to speak. Kry asseblief julle feite reg en gebruik die korrekte terminologie wanneer julle hieroor redeneer om mekaar sodoende onnodige misverstande en struwelinge te spaar.


Om duidelikheid’s ontwil: Retha tel nie onder diegene wat evolusie om godsdienstige redes bevraagteken nie.

This entry was posted in Godsdiens and tagged , , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>