Blogtutoriaal #1 – Deurgrond jouself, beplan soos ‘n dier

Hierdie tutoriaal is deel van ‘n reeks oor self hosted blogging met WordPress.

So jy wil 'n self hosted blog begin? Uitstekend. Dis 'n verrykende aktiwiteit wat jou in aanraking gaan bring met mense en gesprekke wat jy andersins nooit sou beleef nie, 'n markplein van idees waarop jy soos Sokrates van ouds die wêreld onder kruisverhoor kan neem. Jy gaan ietwat meer van 'n bleeksiel aan die ander kant uitkom (wat altyd 'n goeie ding is) en as jy jou kaarte reg speel, kan jy selfs 'n paar sente ryker word.

Jy kan ook vreeslik baie van jou tyd mors.

Heroorweeg

Die eerste ding om te doen wanneer jy dit oorweeg om 'n self hosted blog te begin, is om dit te heroorweeg. Staan op, vergeet van jou rekenaar, wandel deur jou tuin, huppel om die blok, gesels met die buurman – doen wat ookal nodig is om jou kop skoon te kry en besluit van voor af of jy dit werklik wil doen. Anders as gratis alternatiewe, soos WordPress.com of Blogger, vereis 'n self hosted blog meer kundigheid, tyd en geld om te onderhou. Van die voorafgaande beplanning (jy is besig om dit te beplan, nie waar nie?) en die aankoop van webspasie tot die gereelde toevoeging van inhoud en die soms netelige SEO (search engine optimisation), is self hosted blogging iets wat jou hoofbrekens kan gee as jy jouself nie behoorlik daaraan toewy nie. Is jy regtig bereid om tyd en geld te spandeer om jou gedagtes aanlyn te kry?

Ja?

Beplan

Een van die belangrikste take (wat heeltemal te min mense uitvoer) is om die blog te beplan. Besluit van meet af “wie” jy gaan wees, wie jou teikenlesers is, hoe gereeld jy inskrywings gaan maak en hoe jou blog gaan lyk.

Sit 'n bietjie moeite hierin. As jy 'n skuilnaam gaan gebruik, beplan die karakter. Kry vir hom 'n gravatar. Weet hoe hy sal optree as hy kwaad of gelukkig is, wat sy seksuele oriëntasie is, watter taalgebruik hy sal besig, hoe groot sy woordeskat is, waar hy werk, wat hy glo, na watter musiek hy luister en dies meer. Hoe meer detail jy in jou karakter kan weef, hoe beter.

As jy onder jou eie naam wil skryf, besluit hoeveel jy oor jouself wil verklap en hou daarby. (Onthou om altyd vir jou toekomstige baas te skryf.)

Besluit van meet af waaroor jy gaan skryf. Dit kan mettertyd verander, maar dit help om gefokus te begin. Ken jou teikenlesers. Weet of hulle van rekenaarhardeware, boeremusiek of pampoenkoekies hou. Die gewildste blogs is die’s wat op 'n spesifieke onderwerp fokus (dink Keo.co.za) – jou kans is groter om lesers te trek met gereelde inskrywings oor gefokusde onderwerpe, waaroor jy vanselfsprekend iets moet weet. (Min dinge is so irriterend soos 'n blogger met 'n sterk opinie oor 'n onderwerp waarvan hy duidelik nie veel weet nie).

Beplan hoe gereeld jy gaan skryf. As jy 'n werk, 'n gesin, 'n graad of ander verantwoordelikhede het om na te kom, maak seker jou blogging pas by jou daaglikse skedule in. Weet waarnatoe jy in staat is – as jy sewentien keer per dag kan blog, doen dit, maar maak doodseker jy kan die pas volhou. Jou lesers gaan gewoond raak aan gereelde inskrywings en hulle is die laaste mense wat jy wil irriteer met 'n skielike oordosis niks.

Lyk spiekeries

Jy hoef nie pragtig te lyk nie (Photoshop ftw!), maar jou blog moet. Stel vroegtydig vas hoe jou hoekie van die kuberruimte moet vertoon en wat dit moet kan doen. Skets die algehele uitleg op papier. Gaan dit statiese bladsye hê? Fotogalerye? 'n Kontakvorm? Breadcrumb navigation? Vlagskipkategorieë? As daar 'n blogroll op is, wie gaan jy daarop sit?

Google “WordPress Themes” en soek 'n toepaslike tema waaraan jy kan verander (meer hieroor in 'n volgende aflewering) wat jou smaak pas. (As jy 'n PHP-god is, skryf jou eie een). Besluit op 'n naam vir jou blog en mors in Photoshop of iets dergeliks (ek verkies Paintshop Pro) rond tot jy 'n logo en ander grafiese elemente het waarmee jy tevrede is. Gaan loer by WordPress Extend in en besluit of jy enige plugins gaan nodig hê. Onthou hulle.

Leer HTML aan

Jy gaan op die internet werk. Leer hoe. As jy nie ten minste 'n basiese kennis van HTML en CSS het nie, gaan hierdie hele oefening vir jou vinnig ondoenbaar raak. Laai solank vir jou 'n goeie text editor af (probeer Crimson Editor of Notepad++) en raak vertroud daarmee.

Vra jou ma

Indien toepaslik, lê jou idees voor aan mense wat jou teikenmark verteenwoordig. (Dis nie noodwendig jou ma nie – ek wou net gehad het die opskrif moet rym.) As jy 'n blog oor brood beplan, nader broodliefhebbers en vra hulle of hulle so 'n blog sal besoek. As hulle vir jou iets soos die volgende sê:

Janneman – ek hou van die idee, maar ek dink nie 'n broodblog behoort fletspienk te wees met ettergeel teks en onklikbare prentjies van appels onder melkbottels nie.

…druk jou ego in jou sak en luister na hulle. Die voorbeeld is dalk effens absurd (jy beplan nie 'n fletspienk blog met ettergeel teks nie, reg?), maar die onderliggende idee is belangrik. Om idees op die internet te publiseer, is om aan te neem mense gaan hulle lees. Al het jy nie 'n subredakteur, 'n etiese kode of 'n grafiese span nie, beteken dit nie jy kan substandaard inhoud uitspoeg in die gesig van tradisionele media nie. Inteendeel. Jou mikpunt behoort te wees om waarde tot internetgebruikers se lewens (joune inkluis) toe te voeg.

As jy gaan blog om geld te maak of jou ego te poets, gaan jy na alle waarskynlikheid misluk. Besluit wat jy wil doen, beplan dit haarfyn en jy mag dalk net aangenaam verras word met 'n groeiende gemeenskap lesers.

In die volgende aflewering: Die aankoop van webspasie.

This entry was posted in Blogging and tagged , , , , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>