Onthou jy vir Heinz, Anke en Karin?
Vaagweg, dalk?
Ondanks Randal Abrahams se verbale aanslae het elkeen van hulle op 'n tydstip Idols Suid-Afrika gewen – en almal het van hulle vergeet. Hoewel elkeen 'n mate van kommersiële sukses bereik het (veral Heinz Winkler, wie se albums goed verkoop en op die klankbaan vir Disney se Treasure Planet te hoor is), is hulle jare ná die kompetisie steeds nie die supersterre wat die program beloof om te skep nie. Nie in die oë van die Suid-Afrikaanse publiek wat vir hulle gestem het nie, in elk geval.
Dis tog hoekom mense aan die program deelneem, is dit nie? Hulle is lief vir musiek en kan miskien 'n hond uit 'n denneplantasie sing, maar bowenal soek hulle roem. (As dit 'n geval van l’art pour l’art was, sou niemand tog getraak gewees het met televisieverskynings en volgeboekte toere nie.) Hoekom kry wenners dit dan nie?
Die groot trekpleisters by kunstefeeste en ander groot vertonings is steeds die “ou hande” in die bedryf van ligte popmusiek – Kurt Darren, Laurika Rauch, Chris Chameleon, Steve Hofmeyr. Almal wat hulle agterstewes self vir jare flenters gewerk het. Die jong name wat wel by hierdie geleenthede optree, val in dieselfde kategorie as die Idols-wenners – hulle is nou gewild, maar oor 3 jaar twyfel ek of hulle almal steeds “supersterre” sal wees wat groot konsertsale met gillende gehore vul.
As ek 'n raaiskoot moet waag, is die rede hiervoor 'n eenvoudige paradoks wat in Idols opgesluit lê. Dit kweek nie 'n superster nie: dit kweek die volgende superster. Volgende. 'n Nuwe een. 'n Weggooibare produk. Dit trek duisende deelnemers met (super)sterre in hul oë en belowe hulle roem tot in alle ewigheid++, maar produseer daarenteen kitswenners wat eintlik maar net gewild is tot die volgende een die (kortstondige) troon bestyg.
Harde werk – dis al wat werklik vrugte sal werp. 10 000 ure se harde werk. Bloedsweet in klein klubs, moeilike bestuurders, volgelaaide Ventertjies en leë sale op klein dorpies. Dit behoort eintlik vanselfsprekend te wees, maar jaar op jaar breinponkie televisiestasies ons om die teenoorgestelde te glo.
Dis clichématig, maar dis waar – die beste kommersiële musikante is dié wat eens op 'n tyd skaamgekry het vir hul venues.