Christina Storm is Jannie Pelser is Jurie Els is Angus Buchan

DoosDeluxe wonder wonder tereg hoekom daar 'n bohaai oor Christina Storm se naakfoto’s gemaak word. Die antwoord is bedrieglik eenvoudig.

Dis winsgewend.

Vir drukpublikasies is enige polemiek goeie polemiek. Behalwe in uitsonderlike gevalle, waar kontroversie nadelig kan wees (dink Deon Maas), beteken hittige meningsverskille beter sirkulasiesyfers en/of trefslae, wat om die beurt 'n hoër inkomste (hetsy van direkte verkope of adverteerders) beteken.

Wins. Op die ou einde is dit ongelukkig waaroor alles gaan. Koerante en tydskrifte wat nie genoeg geld maak nie, dank personeel af. Koerante en tydskrifte wat glad nie geld maak nie, sluit. (Wie onthou vir Insig?)  Al het jy hoeveel superjoernaliste wat deur hoeveel etiese panele bewaak word, word drukpublikasies om vanselfsprekende redes altyd deur sakemanne aan die lewe gehou. Papier is duur.

Daarom, wanneer 'n polemiek oor – sê – evolusie in 'n Afrikaanse dagblad ontstaan, is die kans dat redakteurs dit gaan kortknip so te sê nul. Noem dit wat jy wil, dit verkoop. Dieselfde geld vir naaktheid. Sedebewakers van hier tot Kuala Lumpur gáán die josie in raak en hulle gáán briewe skryf en die roede roekeloos toedien op forums, koerante se webtuistes en elke liewe siel op aarde se e-posbus. (Van die os op die jas: dis vreemd dat daar nog nie 'n kettingbrief hieroor ontstaan het nie.) Dis ongelukkig normaal.

Storm het waarskynlik 'n kontrak (hetsy mondelings of geskrewe) met Marie Claire aangegaan. Deur 'n foto te plaas wat hierdie ooreenkoms verontagsaam, het Marie Claire hulself skuldig gemaak aan wat ookal Storm hulle van beskuldig. Of dit 'n oordeelsfout was, sal ons seker nooit weet nie en ek moet toegee – die nosie dat Storm haar borste skroomloos laat publiseer, maar skaam is vir haar bene, vind ek self vreemd. Dis 'n lekker gesprekspunt en daar is weinig fout daarmee om aan so 'n debat deel te neem.

As jy jouself egter blindelings hierin, of in die polemiek wat klaarblyklik nou woed oor die foto’s en hul relevansie tot vrouemishandeling, begeef, is jy heimlik besig om die groter prentjie mis te kyk.

Iewers is 'n uitgewer uitgelate aan ‘t lag.

*edit* News24.com berig dat Marie Claire nie 'n ooreenkoms gebreek het nie en die dispuut tussen Storm en die tydskrif intussen afgehandel is. *edit*

This entry was posted in Media and tagged , , , , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>