Jy met die iPod, jy met die mes

Liefste eerstejaar,

Jy wat sidder vir jou HK, jy wat glo jou koshuis is die gode se gawe aan die mensdom, jy wat blommetjies vou en vaak in Victoriastraat rondmarsjeer. Jy wat verlede jaar nog MK agter sekerheidshekke gekyk het of met 'n mes onder jou skoolbaadjie moes rondloop om seker te maak jy kom veilig by die huis. Jy wat uit 'n plakkerskamp kom. Jy met die skewe neus, jy wat deur jou pa geslaan word, jy wat 12 A’s in matriek gekry het, jy wat drie iPods besit, jy wat van Mafikizolo hou, jy wat huil wanneer niemand jou kan sien nie. Jy wat opgewonde is.

Jy is nou 'n Stellenbosse student. Die kampus waaroor jy vir die volgende paar jaar gaan loop, was eens die bakermat van alles Africana, maar dinge is vir 'n geruime tyd al besig om te verander. Die Universiteit Stellenbosch raak stadigaan vreeslik kosmopolities. (Gaan soek daardie woord in 'n woordeboek op as jy nie weet wat dit beteken nie. As jy nog nie 'n woordeboek het nie, skaf onmiddellik een aan.)

Dis 'n goeie ding.

Die wêreld waaruit jy kom, is nie die volle prentjie nie. Nie almal dink soos jy nie, nie almal glo wat jy en jou ouers glo nie. Dis normaal. Suid-Afrika is 'n diverse land waar die een se dood die ander se brood is. Hier sit jy saam met jou dood én jou brood in 'n lesinglokaal.

Moenie sku wees vir hulle nie. Jy kry nou die gulde geleentheid om met meer mense te meng en te gesels as wat jy ooit kon droom. Doen dit.
Praat met mense wat nie soos jy klink nie. Kuier saam met mense wat nie soos jy lyk nie. Eet saam met mense wat nie dieselfde soort klere as jy dra nie. Verdra mense wat anders as jy begeer.

Besef dat die skoonmaker wat jou gang meer kere gaan vee as wat jy jaarliks daaraan sal dink om skottelgoed te was, waarskynlik oud genoeg is om jou ma te wees. Begryp dat nie almal geld gaan hê om weekliks dronk of hoog te raak of huisdanskaartjies te koop nie. Berei jouself voor om mense teë te kom wat vir jou gaan lag as jy sê jy is godsdienstig.

Wees vriendelik met die bergies. Hulle woon al langer hier as jy.

Eendag as jy afgestudeer is, gaan jy die regte wêreld moet betree – en dit gaan glad nie soos hierdie een lyk nie. Dis 'n wêreld waar babas verkrag word, ekonomieë wipplank ry en die kloof tussen ryk en arm daagliks verbreed. Miskien weet jy dit. Suid-Afrika skree van pyn en die gille is soms onhoorbaar in die tradisieryke borreltjie wat jy vanjaar betree het. Dis dalk nie lekker om nou te hoor nie (jy’s waarskynlik in elk geval te moeg om nou daaroor om te gee), maar dis waar: jou HK het vir jou gejok.

Die belangrikste ding in die lewe is nié om JOOL te wen nie.

Daarom smeek ek jou: moenie vir drie jaar daarna streef om weekliks dronk te raak en jouself slegs daaroor bekommer om koshuisrugby te gaan kyk, iemand in 'n klub te vry of net-net jou vakke deur te kom nie. Doen meer as dit. Maak tyd vir meer as wyntoere, 'n kafoefel in Die Laan en die rits tradisies wat oor die volgende paar weke in jou keel afgedruk gaan word.

Moenie net studeer om 'n graad te kry nie. Studeer om Suid-Afrika te gaan regmaak.

Miskien klink dit vir jou vreeslik pretensieus. Miskien verstaan jy nie eers Afrikaans nie, maar weet dit: van die dag wat dat jy jou voete op hierdie kampus met sy roemryke geskiedenis se paaie neergesit het, tot die dag wat 'n kanselier jou 'n oorveeg gaan gee met 'n vreemdsoortige hoed, het jy die keuse om uit jou kinderjare te kruip en jouself reg te maak vir die chaos wat daarbuite heers.

Maak oop jou oë.

Groetnis,

Kennis

Uit: Die Matie, 4 Februarie 2009

This entry was posted in Matieland and tagged , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>