
Iewers in my vervloë jeug (ek was al op universiteit) het ek tydens 'n vakansie in die stoorkamer van 'n apteek gaan werk. Dit was 'n verrykende ervaring vir 'n wit seuntjie wat gedink het filosofie gaan die wêreld verander en rocksterre is almal vriendelike, verligte individue wat die diepsinnigheid van hul eie lirieke verstaan. Ek het saam met mense gewerk wat elke dag Die Son gelees het, wat taxi smiddags huistoe gery het en in teetyd daarvan gedroom het om die Lotto te wen.
Dit was 'n saai werk – ek en my vriend is die taak opgelê om items met die regte pryse te ettiketteer. Gewapen met pryskannonnetjies en kospryslyse moes ons vars bykomstighede aan die hele apteek verskaf sodat die buurt se tannies dinge kon koop wat hulle nie regtig nodig gehad het nie.
Veral die donkerbrille het my stomgeslaan.
Hulle was almal daar, verpak in saai, industriële boksies, elkeen met 'n kosprys van nie meer as R20 nie: Dolce and Gabanna. Bondi Blu. Oakleys. Gianfranco Ferre. La Coste. En dan moes ek hulle merk.
R500. R700. R1000. R1500.
R1500 vir 'n vervlakste stuk plastiek.
Soms, in teetyd, het my medewerkers gedagdroom hoe hulle eendag sulke larney brille sal kan bekostig.