Met apologie aan die Ideëryk.
Eendag, lank, lank gelede, was daar 'n filosoof. Sy ma het hom Dawid genoem. Hy het gehou van eet, was goed ingelig oor die ekonomie en het gereeld tyd opsy gesit om die verlede op te teken. Oor wonderwerke het hy gesê:
[It is a] transgression of a law of nature by a particular volition of the Deity, or by die interposition of some invisible agent.
Dít was sy definisie – en dit sou die basis raak vir soortgelyke argumente wat deur die eeue op syne sou volg. Plek-plek sou iemand daaraan timmer (‘n man met die naam John sou later byvoeg dat wonderwerke boonop “astounding and beneficial” is), maar die basiese idee sou bly staan: 'n Wonderwerk is die verontagsaming van 'n natuurwet.
Lank nadat Dawid se maag snaaks begin voel en hy 'n soplepel in die dak gesteek het, was daar Retha en Wouter, steeds hewig aan het baklei oor presies hoe korrek hy was. Hulle het mekaar gepeper met swane en klerekaste en in die harwar het iets verlore gegaan.
Hulle het vergeet om te onthou dat Dawid gelewe het in 'n tyd toe 'n snaakse oom, genaamd Isak (hy het 'n pen in sy oog gesteek), formules uitgedink het vir iets wat hy die “laws of motion” (hy was 'n Ingelsman) genoem het. Natuurwette. Hierdie formules, het Retha en Wouter (wat Dawid se “Deity” druk bespreek het) vergeet, kan 'n mens maklik om die bos lei, omdat dit 'n begrip inspan wat op velerlei misverstande kan uitloop.
Dis tog nie asof iemand al die atome in 'n ry laat staan en hulle beveel het om op te tree soos hulle doen nie – dis nie asof die heelal haar ore spits om na die wette luister nie. Daarom is dit ook nie juis asof die wette verbreek kan word nie.
Natuurwette, het Wouter en Retha vergeet, is nie wette in die juridiese sin van die woord nie. Niemand “luister” daarna nie – die heelal ís net. Die wette bestaan nie; dinge wat gebeur, laat dit net lyk net asof hulle bestaan. Dis bloot elegante beskrywings van wat herhaaldelik was, opgeteken nadat iemand genoeg tyd opsygesit het om daarna te kyk.
Nie wette nie.
Want die heelal het nie ore nie.
Die einde.
