Wat skort dan nou juis met seks?

235755131

Seks. Boos.

Wens julle nie ook soms mense wil minder skinder en meer dink nie?

Die veelbesproke Joost van der Westhuizen-video noop ‘n mens om te herbesin oor die dood van Kuisheid. (Dis nes die Nietzchiaanse dood van God, behalwe dat dit oor seks gaan ek dit sopas opgemaak het. Ha!)

Toe Nietzche in die 1800’s aangevoer het dat God dood is, het hy nie bedoel dat daar iewers ‘n God is wat ‘n biologiese sterfte oorgekom het nie. Veeleer het hy verwys na die Westerse moraliteit van sy tyd, geskoei op ‘n sekere interpretasie van die Bybel, wat mense volgens hom lank reeds verwerp het. Meen Nietzche via die lippe van die befaamde malman in Also Sprach Zarathustra:

God is dead. God remains dead. And we have killed him. How shall we comfort ourselves, the murderers of all murderers? What was holiest and mightiest of all that the world has yet owned has bled to death under our knives: who will wipe this blood off us? What water is there for us to clean ourselves?

Met ander woorde: die wêreld hou vol dat hulle sekere morele kodes omskryf en navolg, maar voel in wese ‘n bloue duit daarvoor. Hul optrede weerspreek hul woorde. In meer hedendaagse terme sal dit deug om die woorde van ‘n goeie vriend hieroor aan te haal:

Dis nou die tipe mens wat op Donderdagaand in ’n selgroep sit en die gesprek lei, en op Vrydagaand suip tot hy omval. Dan, op Saterdagaand (na rugby), het hy ’n moerse issue daarmee as sy meisie, nadat sy vir hom aandete gekook en bedien het en die skottelgoed gewas het (want die kombuis is tog haar plek in die lewe), nie kans sien om haar tot seks met hom te verbind voor hulle verhouding ’n sekere vlak van emosionele diepte en volwassenheid bereik het nie. En dan Sondagaand, wait for it, is dié ou erg verontwaardig oor ék nie in die kérk was nie.

Kuisheid het gruwelik gesterf, maar ons hou ‘n pragtige front voor wat maak asof dit springlewendig is. Ons het seks op plakkate, seks op die televisie, seks op die internet, seks op padborde, seks in grappies, seks in tydskrifte, seks in films, seks in boeke, seks in inkopiesentrums, seks ad infinitum ad nausea. Seks is orals, verkoop alles en dryf ons gereeld om dinge te doen wat ons nooit sou gedoen het nie. En niemand kla daaroor nie.

Ons het kuisheid vermoor.

Maar laat iemand bekend nou wragtig net seks hê en ‘n video daarvan maak, dan is dit ‘n skandaal van kolossale proporsies. Want dis seks.

Wat skort in elk geval met seks?

Dis dalk tyd om ‘n bietjie in die geskiedenis te gaan delf en opnuut te ontdek dat die Westerse perspektief op seksualiteit en moraliteit grootliks die voortsetting is van die Augustiniaanse teodisee (nie die Bybel nie), wat meen dat die oersonde nie ongehoorsaamheid nie, maar Seks was. Dat die vleeslike en ‘n lus daarvoor boos is. Elke “skandaal” oor ‘n seksvideo is ‘n geleentheid vir die hele land om soos Nietzsche se malman te ontdek dat hulle onbewustelik ‘n argaïese sisteem aanhang wat hulle lankal self verwoes het.

Daar is tog soveel beter maniere om oor die video te dink as: “is dit hy?! Kan dit hy wees?! O GENADE KAN DIT HY WEES??! SJOE DIS ERG! HULLE HET SEKS!”

Sou die wêreld nie wonderlik wees as mense meer dink en minder skinder nie?

Post to Twitter

This website uses IntenseDebate comments, but they are not currently loaded because either your browser doesn't support JavaScript, or they didn't load fast enough.

18 Responses to “Wat skort dan nou juis met seks?”

  1. Die woord ’seks’ verskyn 27 keer op hierdie blog blad. Nou is ‘n gooie tyd om hier te adverteer.

    Reply

  2. Nice stuk Johan- ek moet volmondig saamstem

    Reply

  3. Johan, wat beteken ‘kuisheid’? Is dit om getrou te bly aan ‘n lewens maat? Ek kon nie die vertaling na Engels kry op die internet nie.

    Reply

  4. Dit is juis die punt – Dit gaan nie oor seks of kuisheid nie, maar wel oor getrouheid.
    Arme ou Nietzche kan bly wees hy leef nie vandag nie!

    Reply

  5. Ek dink daar skort niks met seks nie. Hieronder volg ‘n herhalings van my argumente destyds by bosparra (en wat seker maar ‘n herlewing op my blog moet kry).

    Daar is definitief vandag ‘n noue verband tussen elemente soos voorbehoedmiddels, erotiese advertensies, overdraagsaamheid teenoor die seksuele voorkeure van ‘n minderheidsgroep, en klagtes oor seks in rolprente en kuns – en dit is … die Kappie Kommando!

    Met hierdie kollektiewe verwysing bedoel ek die morele konserwatisme van ‘n klein kerngroepie besluitnemers in ons samelewing wat die vryheid aanneem om aan almal te wil voor te skryf hoe mense moet dink en optree. Ek verwys na die groepie mense wat ander daarvan wil weerhou om seksuele verhoudings aan te knoop mits dit binne die huwelik is, of mense te verhoed om enigiets oor seks te leer of uit te vind indien nog ongetroud – en wanneer dan wel getroud, mense aan die noodlot van selektiewe bevrugting oor te laat deur daarop aan te dring dat enige geboortebeperking verbode is.

    Kortliks, wat hierdie anti-seksbrigade voor pleit, is: beperkings, onkunde, biologiese slawerny, sensuur en die randstandigheid van seks tot ‘n primitiewe aksie in die donkerte – ligte af, asseblief!

    Die Joodse siening oor seks is direk gekoppel aan hulle herderskap en is die fokus van die seksuele geplaas op reproduksie – van kinders en skape. Daarom is enigiets wat hierdie voortplantingsbeginsel belemmer, problematies – soos homoseksualiteit, orale seks en masturbasie. In Genesis 38: 8-10 word Onan “gestraf” (soos die 1983 vertaling lees) omdat hy “gesorg [het] dat sy saad op die grond kom.” Die oorspronklike Hebreeuse teks reken eerder God het hom dood gemaak – neergefel. Voeg nou twee ongelukke van die Christelike geskiedenis by hierdie resep, en ons verstaan hoekom Paulus die Westerse wêreld met seksuele frustrasie oorlaai het, wat uiteindelik kulmineer in onvermydelike pornografie, seksuele afwykings en promiskuëteit.

    Eerstens verwys ek natuurlik na die feit dat die vroeë Christene vas geglo het die Tweede Koms naby was, en dat hulle vervolgens selibaat moes bly. Toe die Tweede Koms nou nie gebeur nie, was die Christendom reeds vasgevang in die filosofiese uitgangspunte van Plato wat reken dat die siel goed is en sodanig vertroetel moet word, en die liggaam sleg en daarom gedissiplineer moet word. Die beinvloeding van Plato se siening in Christenskap is ‘n tweede ongeluk. Selfs in die Islamitiese geloof, waar die uiting gee aan die liefde aanvanklik ‘n vrome konsep was – soos tydens die Mughal era in Indià – is die seksuele nou so ver van die psige verban dat onverdraagsaamheid in hierdie verband ‘n totale nuwe betekenis gekry het. Bewyse uit Afghanistan van hoe die Taliban met die seksuele omgegaan het, is vrylik beskikbaar. Iran, Arabië en selfs die Moslem gemeenskap in Suid Afrika is nie ver agter nie. Ek kan my kwalik voorstel hoe die vrouens vandag die nagevolge van hierdie beperkings en sienings ervaar.

    Natuurlik het dit alles ook vir die man gegeld, maar alleen in gees. Die praktyk, selfs vandag, vertel ‘n ander prentjie. Seuns se inisiasie tot die “Manne Korpus” is baie keer lynreg gekoppel aan hulle seksuele eskapades en oorwinnings, en is meer aanvaarbaar as wat ‘n jong dogter dieselfde sou doen.

    Een ding is seker: indien seksuele aktiwiteite toegelaat is om sy natuurlike plek in die menslike samelewing en psige in te neem, sou dit vandag sekerlik baie minder energie en aandag geverg het. Seks beset ‘n belaglike verhewe gedeelte van die mens se morele horison, en in baie gevalle is dit omring deur verwarring, ‘n warboel van gevoelens en ellende. Beperkings, angstigheid en wat bymekaarkom as sosiale rasionalisering vermeerder die belangrikheid van seks (hy wat honger is dink net aan kos), en kan in sommige gevalle tot ‘n verwronge beeld lei – want gefrustreerde en onderdrukte insitinkte, sal enige sielkundige jou vertel, is baie meer geneig tot ongewone, vernietigende gedrag. Is dit nie soms eenvoudiger om na die voorbeeld van die sjimpansee te kyk nie, wat gereelde seksuele interaksies het? Kan ons van hulle iets leer oor intieme konneksie en samesyn? Ape moraliseer nie oor seks nie – hulle gaan net aan soos die geleentheid hom voordoen.

    Baie soos Joost!

    Reply

  6. Emil
    Die term “jy spyker soos ‘n bobbejaan” kom skielik by my op…

    Reply

    Emil Reply:

    Hahahaha, lekker lag ek nou na ‘n verskriklike rowwe week – en dit het niks met seks te doen nie :lol:

    Reply

    demoerin Reply:

    Solank alles nog opkom is die saak a-ok!

    Reply

  7. (1)
    het lijkt mij ook wel wat om, zoals de apen in de lijvige uiteenzetting van emil (:o), zomaar ieder lekker vrouwtje dat ik op straat tegenkom eventjes te kunnen ‘nemen’
    ik kan er niets aan doen: ik ben een man – en daarbij ben ik eigenlijk gewoon een aap, toch?
    maar ik zou het niet fijn vinden als mijn vriendin op straat door andere mannetjes ‘genomen’ zou worden

    (2)
    daarnaast is er dus inderdaad zoiets als moraliteit, die zich in relatie tot seks vooral uit in afkeuring: mensen vinden seks lekker (als het goed is), maar seks mag niet lekker zijn
    - hier heb ik zelf goddank geen last van, maar voor heel veel mensen in heel veel culturen weegt dit zwaar, zoals emil ook al noemt

    (3)
    en dan moet het ook nog eens allemaal verstopt: ik heb op (c)anal+ en internet, zal ik eerlijk toegeven, nog wel eens porno bekenen – maar ik moet er toch niet aan denken dat ik mijn broer met zijn vriendin zou betrappen, of een seksfilm van een bekende sporter of zanger onder ogen zou krijgen
    dus: we willen het wel zien (want we zijn nieuwsgierige aapjes), maar het mogen geen bekenden zijn (want dat is niet keurig)

    zie je wel? ik geef het toe: ik heb ook een dubbele seksmoraal
    zoals (bijna) iedereen

    Reply

  8. hallo johan. soos altyd is jy baie skerp, maar ek lewer nie vandag kommentaar nie, ek spam net die hele blogland vol.

    Reply

  9. Tensy hulle aan nuwe maniere dink om meer te skinder.

    Reply

  10. die alewige stryd om sensuur. Mense is mal daaroor as iemand anders iets verkeerd doen en kan kyk wat met hulle gebeur…

    damn die lewe is net te weird…

    Reply

  11. Niks fout daarmee nie. Dis egter nogal soos koorsing. Lekkerder om self te doen as om daarna te kyk of te luister. Veral as jy die ou se rugbykommentaar daarna ooit weer wil aanhoor sonder om te wonder…ag, ja, toemaar. Vergeet dit.

    Reply

  12. wonder of die mense nog bewus is van die blommetjies en die bytjies

    Reply

  13. ‘n Joost-verwysing! Johan, jy mag nooit weer hierdie blog lees nie!!

    Reply

    Johan Swarts Reply:

    d’OH!

    Reply

  14. Ek dink egter ons hang-ups oor seks is veel ouer as Augustinus en kom wel uit die Bybel. Met die uitsondering van Hooglied is die hele Bybel erg dubious oor seks en word enige vorm van seks wat nie op voortplanting gerig is nie negatief beoordeel – onanisme, homoseksualiteit, seks waar die vrou dominant is, ens.

    Reply

  15. Dit is die hap van verbode “vrugte” wat ons kelder/keer. Wat ons laat snak na ons asems . . . uit die diep onbewuste (?) skuld, want die vrug is mos veronderstel om te voed en die smaak nie.

    Reply

Leave a Reply

CommentLuv Enabled