Wanneer stuur ons weer kollektebordjies vir onsself om?

Jy kla oor die toestand van ons land - nou fokken doen iets daaromtrent (Fokofpolisiekar, Brand Suid-Afrika)

Daar is iets vreemds (vir my, in elk geval) aan die manier hoe veral die Afrikaner misdaad in Suid-Afrika hanteer.

Die normale reaksie op die moord van 'n naaste is een van afgryse, van diepere weemoed, van woede. Die dood word betreur, die moordenaar word gehaat. Pyn word nie altyd verwerk nie. Daar is ook nie juis antwoorde nie. Dis aaklig.

Vir die Afrikaner (en omdat ek die risiko loop om gruwelik te veralgemeen, vra ek nou reeds om verskoning daarvoor) is daar soms 'n bykomende faktor.

Ons voel die wêreld het teen ons gedraai – ons voel ons woon in tronke. Ons voel asof ons nêrens heen het om te gaan nie. Ons voel kloustrofobies, ons raak paranoïes, ons sluit onsself toe agter mure en sekuriteitshekke, ons kla oor hoe aaklig die wêreld daarbuite is.

Maar ons doen niks daaromtrent nie.

Toe Johannes Kerkorrel destyds in sang gevra het dat ons ons harte vir Hillbrow moet gee, het ons miskien vroom geknik en so dan en wan 'n skietgebedjie opgestuur vir die armsalige idiote in die wilde, woeste woonbuurt. Miskien 'n ekstra kollekte in die bordjie gegooi vir 'n aksie om blikkieskos in te samel of ongehude moeders uit die hel van prostitusie te bekeer. Daar doer anderkant waar dit sleg is.

Nou is ons eie wêreld 'n Hillbrow en skielik is alle hoop daarmee heen.

Ons stuur nie kollektebordjies vir onsself om nie.

Ons vlug.

Is ons dan so lamsakkig dat ons net ons harte sal gee wanneer Hillbrow ver is?

This entry was posted in Politiek and tagged , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>