Om vir die polisie toebroodjies te maak

Sê van hulle wat jy wil – die SR kom soms met goeie idees vorendag. Daar was byvoorbeeld die befaamde idee 'n paar jaar gelede om die serkaartjiery meer vaartbelyn te maak deur aan rystaanders 'n nommer op 'n kaartjie toe te dien. 'n Elegante idee wat lof verdien. (Sê: dankie, Kobus Ehlers.) So kan 'n mens seker 'n paar ander dinge opnoem – groter mailboxes vir studente, oulike inisiatiewe soos Soen in die Laan, Kmail, ensovoorts.

Ongelukkig is dit nie al waarmee hulle vorendag kom nie.

Enter: the police. Meer spesifiek die Stellenbosse polisiekantoor. Luidens berigte is enkele (let wel – enkele) studente onbillik behandel deur Stellenbosse lede van die SAPD. Daar is blykbaar ongevraagde en hardhandige visenterings op studente uitgevoer en dit het die SR genoop om lank en diep in 'n hoekie te gaan tob oor hoe hulle die probleem kan oplos.

Hul oplossing is 'n kwartaallikse gespreksforum en die Adopt a Cop-inisiatief.

Neem asseblief 'n oomblik en dink hieroorna. Elke koshuis en privaatwyk op kampus sal, as die SR hul sin kry, voorts 'n polisieman “aanneem” ten einde 'n gesonde verhouding tussen die studentegemeenskap en die polisie te bevorder en wanpersepsies uit die weg te ruim. Hulle sal die polisieman van tyd tot tyd saamneem na funksies, dan en wan nooi vir etes en luidens die SR se brief aan direkteur Mentoor: “so 'n bietjie bederf”. En so af en toe met hulle praat.

Miskien is dit nodig om sake in perspektief te plaas.

Studente wat hardhandig gevisenteer en in selle opgesluit word, is normaalweg wit, ryk, dronk en besig om in die publiek op straathoeke te kots.

Dis genoeg perspektief.

Die polisie hardloop nie rond en probeer studente onsedelik aanrand nie. Trouens – die kere wat ek in my ses jaar op Stellenbosch al beroof is, was hulle uiters hulpvaardig wanneer ek 'n klag moes lê. Selfs toe ek 'n verslag moes aflê om op die nippertjie versekering te kon eis vir goedere wat van my ontfutsel is in Bloemfontein, het 'n vriendelike beampte op die stasie in Stellenbosch uit sy pad uit gegaan om my te help toe hy dit eintlik nie hoef te gedoen het nie. Nie een keer is ek onbillik gevisenteer nie.

Ek was toevallig ook telkens nugter.

Die SR se inisiatief spreek van uiterse naïwiteit. As die polisieman besig is om in die koshuis se eetsaal aan 'n broodjie te peusel, kan hy nie sy werk doen en die kampus patrolleer nie. Bowenal: die SR het duidelik nog nie aangeleer dat ons in 'n heliosentriese heelal woon nie. Die heelal draai nie om studente nie. Meen die SR in die brief aan die polisie:

Ons glo in so (sic) gespreksforum kan ons leer om mekaar en mekaar se probleme te verstaan, en kan ons saam in gesprek tree rondom moontlikhede om hierdie probleme aan te spreek.

Die polisieman se probleem is dat hy onderbetaal is, sy stasie bes moontlik onderbeman is en hy daagliks met die skuim van die aarde te doen moet kry wat baie meer geld maak as hy uit onwettige bedrywighede. Die student se probleem is dat hy sy pa se geld in Bohemia geblaas het en sy toets verslaap het. Hoe op dees aarde gaan die wedersydse uitruil van hierdie inligting enigiemand baat?

A few rich white kids got slapped around – en nou verwag hulle die heelal moet om hulle draai.

Ek sê nie die polisie is engeltjies nie. Natuurlik jaag hulle ook van tyd tot tyd snert aan. As jy voel jy is onbillik behandel deur 'n polisieman, gaan lê jy 'n klag by die polisiekantoor of wend jy jou tot die hof, waar daar juridies bewys kan word wat regtig gebeur het en daar dan dienooreenkomstig opgetree kan word. Dis jou goeie reg om dit te doen.

Maar good grief, jy maak nie vir hom 'n broodjie nie.

Uit: Die Matie, 4 Maart 2009

This entry was posted in Matieland and tagged , , , , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>