Blogtutoriaal #2 – Die aankoop van webspasie

Hierdie inskrywing is deel van 'n reeks oor self hosted blogging met WordPress

Vir die doel van hierdie inskrywing neem ek aan jy weet nie hoe om 'n webserver op jou eie rekenaar op te stel nie. Vir die avontuurlustiges wat Windows XP of Vista besit en IIS wil probeer installeer, is hierdie soektog 'n goeie vertrekpunt. As jy 'n Mac het, probeer MAMP.

Noudat jy weet wat jy van jou blog vereis (en die blog van jou) is die volgende stap om webspasie te koop en WordPress daarop te installeer. Hiermee saam moet jy ook 'n domeinnaam kry. (‘n Domeinnaam is die semantiese ekwivalent vir jou webtuiste se numeriese IP-adres. Niemand wil 72.14.205.100 onthou as hulle google.com kan gebruik nie). Jou domeinnaam is blywend, so kies dit goed.

WordPress se minimum vereistes is:

  • PHP 4.3
  • MySQL 4.0

PHP is die taal (‘n scripting languange, om presies te wees) waarmee WordPress geskryf is. MySQL is databasisprogrammatuur waarmee WordPress data soos inskrywings, bladsye en kommentaar op jou webspasie stoor. Hiersonder is dit onmoontlik om WordPress te gebruik, so maak seker die pakket wat jy aankoop, bied altwee. As jy permalinks wil gebruik, maak ook seker jou pakket ondersteun die APACHE Mod_Rewrite module.

As al die voorafgenoemde spesifikasies vir jou na Tsoti-taal klink, moenie bekommerd wees nie. Jy hoef nie te weet hoe dit werk nie – dit moet net iewers op die pakket sy lysie funksies staan. (Mod_rewrite gaan na alle waarskynlikheid nie daar staan nie. Stuur self 'n e-pos en vind uit.)

Vermy Linux-plase in kelders

Daar is nie 'n resep om die regte hosting company te kies nie. Benewens WordPress se vereistes, is die belangrikste twee oorwegings spoed en betroubaarheid. Kort op hierdie twee se hakke is kliëntediens. Jy kan (die hemel behoede jou) die goedkoopste “pakket” aanskaf by jou buurman se skoonma se tienerseun wat 'n Linux-plaas in sy kelder op 'n 56k dialup connection onderhou, maar jou blog (en sy kliëntediens) gaan waarskynlik stadig en gedurig onbeskikbaar wees.

‘n Basisreëel om wel te gebruik, is bloot dit: as dit te goed klink om waar te wees, is dit waarskynlik te goed om waar te wees. As jy 'n aanbod vir onbeperkte bandwydte, onbeperkte stoorspasie en 'n lewenslange intekening op Insig kry, raak skepties. Soek vir shared hosting by groot, bekende maatskappye. (As jy eendag jou superblog met duisende besoekers per uur kry, kan jy dit heroorweeg om 'n dedicated server te huur.)

Local is…duur

Dit sal sinneloos wees om elke aspek van web hosting hier te dek (as jy goeie raad het, plaas dit gerus onderaan hierdie inskrywing in die vorm van kommentaar), omdat daar te veel aspekte met te veel veranderlikes is. Wat wel van belang is binne 'n Suid-Afrikaanse konteks, is die oorweging van plaaslike versus oorsese maatskappye. Plaaslike webspasie is duurder en jy kry minder bandwydte en stoorspasie per Rand as wat jy uit 'n oorsese maatskappy sou kry, maar wat kliëntediens aanbetref, kan dit vir alle praktiese doeleindes gemakliker wees om hier te host. (Soms is dit ook 'n fraksie vinniger). Oorsese datakoste, aan die ander kant, is veel goedkoper per MB, maar kan miskien op ongure tye ontoeganklik raak. Enige webhost wat downtimes beleef is gewoonlik 'n versameling afkop hoenders wat rondhardloop om die probleem so vinnig moontlik op te los. As hulle nie 'n duisend trained monkeys agter e-posterminale het nie (en hulle het nie), gaan jy dalk lank wag om 'n antwoord te kry.

Derhalwe moet jy ook besluit of jy maandeliks, jaarliks, tweejaarliks of hoe ookal wil betaal. Die meeste maatskappye bied afslag aan as jy vir 'n jaar of twee vooruit koop. As jy dit kan bekostig, betaal vooruit en doen 'n proeflopie vir een jaar. Dit gee jou kans om te skuif as die diens en uptimes afgryslik was, maar is ietwat meer koste effektief as 'n maand tot maand basis.

In 'n neutedop

Koop so vinnig en betroubaar moontlik vir so lank as moontlik.

Download solank 'n FTP-kliënt.

Uit eie ondervinding kan ek Hetzner sterk aanbeveel. Hulle is vinnig, bied 24/7 kliëntediens en het data centres hier sowel as in Duitsland. As die perde eendag horings kry en hulle downtimes het, is dit binne minute herstel.

In die volgende aflewering: Hoe om WordPress te installeer.

This entry was posted in Blogging and tagged , , , , , , , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink. Post a comment or leave a trackback: Trackback URL.

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>